Inwoners van De Zoete-inval, en spesifiek Fraterstraat in Paarl-Suid, het ná langer as ’n jaar steeds nie duidelikheid oor presies wat die sementfabriek Portland Readymix doen om afvalbestuur toe te pas nie.
Volgens vorige berigte van Paarl Post het inwoners van Fraterstraat hul besware aangeteken oor die sementstof en veral die besoedeling wat die stof agterlaat en die geraas wat die sementvragmotors maak wanneer hulle deur die buurt ry.
Ook die Wes-Kaapse departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning se hulp is ingeroep
en die departement het in 2018 ’n voldoeningskennisgewing uitgereik wat verduidelik het presies watter ordonnansies Portland Readymix nie nagekom het nie, en wat die oplossings is.
Volgens die bevindings het die sementfabriek stormwater besmet, en is Portland Readymix gevra om met ’n omgewingsbestuursplan vorendag te kom.
Dit het ingesluit om sementvragmotors gereeld te was, asook die bou van ’n dam om besmette stormwater op te vang, die beperking van stof deur ’n spoedgrens vir vragmotors te stel, en om ’n filtreerstelsel aan te bring om die stof wat die aflaai van die sement van die vragmotor na die silo veroorsaak, te verminder.
Ná addisionele besoeke wat in 2021 deur die Drakenstein-munisipaliteit gebring is, is bevind dat die bestuur van die aanleg se stormwater steeds nie op dreef is nie.
Verder is in die munisipale kennisgewing bevind dat die onderneming onder meer geraas tussen 22:00 en 06:00, wat deur die vragmotors veroorsaak word, moet verminder, ’n stof- moniteringsprogram moet aanskaf om die hoeveelheid stof te bestuur, die strate waardeur die vragmotors ry moet skoonvee om die stof te verminder en stormwater wat sement bevat, moet bestuur.
Nietemin, volgens die inwoners van Fraterstraat, word daar nie by hierdie kennisgewings gehou nie, en lê die sement dikwels soos ’n laken oor De Zoete-inval.
In ’n vorige artikel het ’n inwoner verduidelik dat die sementstof op motors beland.
’n Ander inwoner het weer verduidelik dat die stof ’n gesondheidsrisiko is omdat dit ingeasem word.
Volgens ’n inwoner van Fraterstraat met wie Paarl Post gesels het, wil niemand verantwoordelikheid vir die aangeleentheid neem nie, waar Portland Readymix sê dat De Zoete-inval in ’n nywerheidsgebied val, wat beteken dat die onderneming nie aanspreeklik gehou kan word nie, terwyl die Drakenstein-munisipaliteit volhou dat hulle die nodige stappe neem.
Volgens die inwoner is dit ’n “ernstige” probleem omdat inwoners se gesondheid in die gedrang is. Hy verduidelik ook dat inwoners nie hul vensters wil oopmaak nie uit vrees dat die stof hul besittings sal beskadig of dat hulle nog meer daarvan sal inasem.
Volgens Riana Geldenhuys, ’n woordvoerder van die Drakenstein-munisipaliteit, is ’n aksieplan in November 2022 opgestel om die bogenoemde klagtes op te los, maar die inwoners se weergawe verskil egter.
“Die Drakenstein-munisipaliteit implementeer ook sedert Februarie vanjaar sy eie stofmoniteringsprogram in die Fraterstraat-gebied, die aanliggende Frater-kelder, sowel as die Oude Chardonnay-landgoed. Die uitslae van die afgelope maande se stoftellings is aan die betrokke wyksraadslid bekend gemaak. Stormwatermonsters van die Portland-perseel is ook voorheen gemonitor, maar geen besoedeling is bespeur nie. Hierdie oefening sal weer op ’n ad hoc-basis voortgesit word, waar enige oorskrydings van die stormwater- en stofmoniteringsmaatreëls in ooreenstemming met die relevante wetgewing vervolg sal word, het Geldenhuys gesê.
Terrein-inspeksies toon dat die wiele van Portland Readymix se vragmotors wel afgewas word in hul aangewese wasgebied voordat dit die perseel verlaat. Een uitdaging in hierdie verband is wel die serwituut-pad wat Portland en omliggende grondeienaars diens; hierdie serwituut-pad sluit aan by Fraterstraat en is nie geteer nie. Die munisipaliteit werk met Portland Readymix saam om te verhinder dat hierdie grondpad oormatige stof genereer.
’n Vergadering tussen die Drakenstein-munisipaliteit, die relevante wyksraadslid, Portland Readymix, asook ’n verteenwoordiger van die inwoners van die De Zoete Inval-gebied, is op 7 September gehou waar terugvoering oor die aksieplan deurgegee is. Die munisipaliteit sal gereeld hierdie platform gebruik om met alle rolspelers te kommunikeer; die volgende vergadering is reeds vir Oktober geskeduleer.
Volgende vergadering
Volgens Johan Liebenberg, die wyksraadslid vir Wyk 15, is die onlangse vergadering tussen Portland Readymix, die Drakenstein-munisipaliteit en die inwoners nog nie afgehandel nie en vind ’n volgende vergadering op 12 Oktober plaas waar meer duidelikheid gegee sal word.
Portland Readymix het per e-pos gesê dat hulle in “konstante” verbinding is met die munisipaliteit en werk saam met dié entiteit om die klagtes op te los.