Twee vermeende diewe wat deur middel van ‘n seinblokkeerder ‘n motor wou roof is vandag (8 Desember) by die Vrede en Lust-wynplaas vasgetrek deur middel van flink samewerking tussen ‘n sekuriteitsmaatskappy van die Paarl, die Simondium-plaaswag asook die Groot Drakenstein-polisie.
Volgens Theunis Fick, eienaar van Cyclops Security, is sy maatskappy deur iemand van ‘n nabye plaas ingelig oor ‘n “verdagte voertuig” wat op die Klapmuts-Simondium-pad gery het waarna hulle gaan ondersoek instel het.
Hy het verduidelik dat Cyclops ‘n “raaiskoot” gevat het oor waar die twee verdagtes sou stop.
Die voertuig is toe opgemerk in Vrede en Lust se parkeergebied nadat die Simondium-plaaswag op patrollie gegaan het as gevolg van die waarskuwing van die nabye plaas.
Cyclops Security is toe ook inderhaas na die wynplaas waar hulle ongeveer 40 minute vir die twee verdagtes wat in ‘n silwer Renault Megane gery het, gewag het.
Die twee verdagtes en hul voertuig is glo bekend in die gebied en het na bewering vantevore items uit ‘n motor in Edgemead deur middel van ‘n seinblokkeerder gebuit.
Die sekuriteitsmaatskappy het toe vir die verdagtes by die wynplaas gewag waar twee motors in die parkeergebied gewag het en een voertuig buite die ingang.
‘n Motor het kort daarna langs die twee verdagtes se motor stilgehou, waarna hulle deur middel van ‘n seinblokkeerder gekeer het dat die motor, ‘n wit Toyota Fortuner, kon sluit en het onder meer twee tablet-rekenaars gesteel.

Daar was blykbaar ook kontant in die motor, maar dit is nie gesteel nie.
Die verdagtes het toe in hul motor geklim en wou wegry waarna die ingang na die wynplaas deur Cyclops Security geblok is.
Fick het vertel dat die verdates toe te voet wou ontsnap, maar dat hulle inderhaas vasgetrek is en op die toneel deur die Groot Drakenstein-polisie in hegtenis geneem is.
LEES OOK: Paarl-polisie arresteer swendelaars wat toeriste teiken
Fick het bygevoeg die polisie was binne ‘n paar minute op die toneel om die verdagtes te arressteer wat na verwagting binnekort in die hof sal voorkom.
Volgens hom is die eienaar van die voertuig van Brakpan in Johannesburg en was hy onderweg na Mosselbaai, maar het eers by Vrede en Lust gestop om wyn te koop.
Fick het ook verduidelik dat hierdie soort misdaad al hoe meer toeneem, veral in die aanloop tot die Kersvakansie waar boewe veral toeriste teiken.
Paarl Post het uitgereik na die Groot Drakenstein-polisie wie se kommentaar bygevoeg sal word sodra dit ontvang is.





