Dit sal die tiende jaar wees wat Dirtopia Dinsdag 31 Oktober die Halloween Forest Night Run by Muratie Wynlandgoed aanbied.
Dra ’n prettige kostuum, ’n masker of verf jou gesig en neem deel aan die 5 km (stappers toegelaat) of 10 km wat om 19:30 – net ná sononder – begin.
Hardlopers kan kies of hulle ’n uitslagtyd wil hê of nie. Fotosport sal teenwoordig wees om die herinneringe op die roetes vas te vang.
Die Halloween Forest Night Run vind al sedert 2013 plaas en is ’n moet vir hardloop-entoesiaste. Kom belewe Muratie se paaie in die grillerige donker en toets jou senuwees op die kontoerroetes terwyl jy die spoke ontduik . . .
Al die hardlopers moet ’n lig op hul kop dra – dis donker daar!
By die eindpunt kry hardlopers almal ’n gratis Coke en ’n medalje, waarna hulle en hul geliefdes kan uitspan met die lekker musiek in lewende lywe van die plaaslike Stellenbosse groep Akkedis. Muratie se wyn sal per glas of per bottel te koop wees, asook boetiekbiere. Ligte etes sal ook te koop wees.
Pryse, geborg deur Sportsmans Warehouse, vir die beste Halloween-kostuums en vir topdrie-mans en -vroue in elke afstand word toegeken – asook gelukstrekkings. Staan ’n kans om drafsokkies van FALKE, Muratie-wyne en ander produkte te wen. Meer as R20 000 se pryse is op die spel om ’n dekade van pret in die betowerde woud van Muratie te vier. Muratie-wynplaas is die perfekte venue, met sy historiese ouwêreldse sjarme. Halloween-aand was nog altyd onvergeetlik en sal vanjaar die somer op ’n hoë noot begin.