Die Hoër Meisieskool La Rochelle het onlangs met ’n traan in die oog van een van hul legendariese onderwysers, Marianna Schoeman, afskeid geneem.
Schoeman was meer as 45 jaar by La Rochelle betrokke en het diep spore getrap in die bevordering van sport by die skool.
“Ek het in Januarie 1978 by La Rochelle begin skoolhou tot en met my aftrede in Februarie 2023 (45 jaar en 2 maande later),” spog sy.
Schoeman vertel dat sy grootgeword het in Port Elizabeth (Gqeberha) waar sy haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Pearson voltooi het. Ná skool het sy ’n vierjaarkursus voltooi in liggaamlike opvoeding aan die destydse Universiteit van Port Elizabeth.
Sy was nog haar hele lewe lank aktief en het ’n groot liefde vir sport. Voordat Schoeman sport begin afrig het, was sy ’n kampioenatleet.
“Ek was ’n provinsiale atleet en netbalspeler en het ook vir die SA universiteite se netbalspan gespeel. Ek was ook ’n provinsiale netbalskeidsregter.”
Toe sy by La Rochelle begin werk het, het Schoeman haar dadelik begin toespits as atletiekafrigter.
“Atletiek en sport oor die algemeen het baie gevorder sedert ek daar (by La Rochelle) begin het. Aanvanklik het ek alleen al die items afgerig. Ek het ook die skool se eerste netbalspan afgerig. Op die oomblik is daar agt buite-afrigters wat die afrigting behartig.
“In die begin was daar enkele provinsiale atlete en dit het pragtig gegroei tot veel meer vandag.”
Ná al die jare se harde werk en die kritiese rol wat sy in die skool se sportafdeling gespeel het, asook die tyd en energie wat sy aan elke Larries-sportmeisie gegee het, is Schoeman beskeie oor die taak wat sy verrig het. Sy sê sy is nie iemand wat daarvan hou om oor haarself te praat nie.
Hoogtepunte wat vir Schoeman uitstaan oor die vier dekades, is La Rochelle se sukses op vele gebiede van akademie, sport en kultuur, en ook die kinders se gesigsuitdrukkings as hulle sukses behaal het. Sy maak dit duidelik dat sy geen laagtepunte ervaar het nie.
Buiten haar betrokkenheid by sport het sy ook Afrikaans eerste addisionele taal onderrig vir leerders van gr. 8 tot gr. 12. Schoeman sê die leerders, hul ouers en haar kollegas is wat haar deur die jare gemotiveer het om elke oggend op te staan en skool toe te gaan.
“Ek wou graag daar wees en help om ’n verskil in lewens te maak. My geloof, goeie gesondheid en deursettingsvermoë het my staande gehou.”
Ná haar aftrede, en met ’n ryke nalatenskap, sê Schoeman: “Ek sal graag wil sien dat elke meisie my voorbeeld volg deur met passie alles wat hulle aanpak enduit te voltooi en die lewe voluit te leef en te geniet.”
Tydens vanjaar se 4M-atletiekbyeenkoms het Janke Oosthuizen, wat in 2021 aan La Rochelle gematrikuleer het, ’n treffende huldeblyk gebring aan Schoeman namens die skool se oudleerders.
“Jou toewyding en leiding het ’n vuur in ons siele aangesteek. Jy het ons geïnspireer om die beste te doen wat ons kan, en om ons doelwitte te bereik. Jou lesse sal lank ná hierdie dag onthou word – want die lesse wat jy ons geleer het, het nou eers begin. Jy het ons geleer van toewyding, hoop en deursettingsvermoë. Deur al die oorwinnings en verliese het jy ons gehelp om te leer en te groei. Jy het so ’n spesiale rol in ons lewe gespeel,” het Oosthuizen gesê.
Volgens Schoeman het die woorde diep in haar hart gaan lê en sal dit haar altyd bybly. Sy waardeer die rol wat sy elke dag in die meisies se lewe kon speel.
Nou sien Schoeman daarna uit om bietjie agteroor te sit en te rus. Sy wil ook baie tyd deurbring met familie en vriende en beplan om baie ver ente te stap, gesond te eet en huiswerk te doen.
“Ek gaan in Meimaand ook ’n staptoer in Griekeland onderneem,” sê sy.
- At the end of February La Rochelle Girls’ High said goodbye to one of their teachers, Marianna Schoeman, who played a major role in promoting sports at the school.


