Wanneer dit by Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc kom, is daar beslis nie ‘n een-smaak-pas-almal-nie! Veelsydigheid is juis die eienskap wat uitstaan van hierdie gewilde kultivar. Daarom daag Sauvignon Blanc Suid-Afrika almal uit om ter viering van internasionale Sauvignon Blanc-dag ’n Sauvignon-styl-avontuur aan te pak om die volle spektrum van plaaslike style te verken, proe en geniet.
Internasionale Sauvignon Blanc-dag word jaarliks wêreldwyd op die eerste Vrydag in Mei gevier. Vanjaar se langnaweek en skoolvakansie bied die ideale geleentheid om Sauvignon Blanc SA se naweekvieringe van Donderdag 1 Mei tot Sondag 4 Mei mee te maak.
Probeer ‘n nuwe styl – of agt!
“Die lewe is te kort om net een styl Sauvignon Blanc te drink,” sê Elunda Basson, Keldermeester by Steenberg Vineyards en Voorsitter van Sauvignon Blanc SA.
“In Mei wil ons almal uitdaag om buite hul gemaksone te skuif en iets nuuts te probeer,” sê Basson. “Sauvignon Blanc se groot waarde lê in die veelsydigheid van ons streke, die visie van ons wynmakers en die inspirerende reeks style wat hulle skep. Wees dus ‘n bietjie avontuurlustig en verken gerus die ongelooflike verskeidenheid wat Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc bied.”
“Daar word maklik aangeneem dat daar net ‘n paar style Sauvignon Blanc is,” sê die wynkundige dr Carien Coetzee, wat as tegniese raadgewer vir Sauvignon Blanc SA dien en vanaf 2025 die rol as sameroeper van die FNB Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisie vervul. “In der waarheid is daar agt kategorieë wat as styl-boublokke dien, naamlik tropies, vrugtig, sitrus, kruie, minerale, blomme, gerooster en alternatief.”
“Hierdie style kan dikwels ‘n bietjie oorvleuel, so te sê in mekaar vleg en trou, en nog meer nuanse toevoeg,” sê Coetzee. ““Weet jy altyd watter wyn jy gaan kry as jy ‘n bottel van die rak af kies? Nie noodwendig nie, maar jy kan dalk ‘n nuwe gunsteling ontdek. Een ding is seker: Sauvignon Blanc maak altyd ‘n elegante wyn, smaakvol en geurig met aromatiese intensiteit.”
Volgens Coetzee gee kompetisies soos die Sauvignon Selection by CMB (Concours Mondial de Bruxelles) en die FNB Sauvignon Blanc SA Top 10 goeie leiding aan wyndrinkers om te weet watter Sauvignon Blanc om volgende te probeer.
Terroir-gedrewe, gehoute wyne en ouer oesjare presteer
Die FNB Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisie word sedert 2007 jaarliks aangebied om innovasie en uitnemendheid in die kultivar te bevorder. In 2024 het 91 produsent 160 wyne ingeskryf. Besonderse plek-spesifieke wyne het presteer met wyne uit drie streke, ses distrikte en sewe wyke wat bekroon is. Dit sluit in vyf wenners van die Kusstreek, vier van die Kaapse Suidkus, en een van die Breederiviervallei.
Dit is opmerklik dat ses van die wenwyne gehout is, ‘n styl wat toenemend sy merk begin maak; ’n beduidende sprong van net een gehoute wenwyn in 2021. Ouer oesjare het ook goed vertoon: Die 2023-oesjaar geskitter met sewe wenners, gevolg deur twee uit 2024 en een uit 2022, wat weer eens die verouderingspotensiaal van Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc bevestig.
Styl-diversiteit beÏndruk internasionale beoordelaars
By die wêreld se grootste kompetisie vir Sauvignon Blanc, die gesogte Sauvignon Selection by CMB, het Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc die beoordelaars se aandag behoorlik vasgevang met hul merkwaardige styl-diversiteit. Só sê dr Coetzee, een van 60 beoordelaars van regoor die wêreld wat van 11 tot 13 April 2025 in Burgas, Bulgarye, byeengekom het.
Meer as 1 000 Sauvignon Blanc-wyne van van 26 lande het meegeding in die 16de weergawe van die kompetisie. Suid-Afrikaanse produsente het 31 medaljes verower, insluitend een “Grand Gold”, sewe goue en 23 silwer medaljes. ‘n Indrukwekkende 48% van Suid-Afrika se inskrywings het medaljes verwerf, die tweede hoogste gemiddelde ná Nieu-Seeland.
“Suid-Afrika se prestasie het ons land se reputasie as ’n wêreldklas-produsent van Sauvignon blanc en ’n ernstige mededinger op die internasionale verhoog verder bevestig,” sê Coetzee. “Om kompeterend te bly, moet ons aanhou om grense te verskuif, veral in die kelder. Net ‘n paar weke gelede het Diemersdal ‘n Sauvignon Blanc wat in unieke glasbolle, genaamd WineGlobe, verouder is, bekendgestel. Nie net is dit ‘n eerste vir hulle nie, maar ook in die wynbedryf. Geen ander kelder het al ‘n wyn wat in groot-volume glashouers verouder is, vrygestel nie.”
Drie wenstyle van een produsent
Flagstone The Surge Sauvignon Blanc 2024 van Darling het geskitter deur ‘n “Grand Gold”-medalje en die Revelation-trofee as die beste Suid-Afrikaanse wyn in die kompetisie los te slaan. Die wynkelder, wat met wingerde uit vier verskillende streke werk om hul veelsydige reeks Sauvignon Blanc-wyne te maak, het ook ‘n goue en ‘n silwermedalje gewen.
“Ons is trots op die prestasie van Flagstone se drie wenwyne,” sê Gerhard Swart, Hoofwynmaker van Flagstone. “Dis ‘n groot eer om met The Surge se 2024-oesjaar die trofee te wen. The Surge kom van die Darling-heuwels met ‘n uitsig oor die koue Atlantiese see en is kenmerkend van koelklimaat-Sauvignon Blanc met komplekse geure; volryp met groen vy, grenadella, aspersie en sitrus.”
“Met ons Free Run Sauvignon Blanc 2023 fokus ons op ‘n ligter, tropiese, sitrus- en minerale styl. Hier kombineer ons druiwe van Walker Bay met Elgin en Stellenbosch om ‘n komplekse Sauvignon Blanc te maak – net soos ‘n goeie sjef met ‘n verskeidenheid geure speel om ‘n een unieke dis te maak.”
“Ons Treaty Tree Classique White is ‘n Sauvignon Blanc/Semillon versnit waar ons ‘n gedeelte van die wyn in klein Franse eikehoutvate gis en verouder. Hierdie wyn gaan ongelooflik goed saam met enige seekos en wys nog ‘n ander kant van die diverse Sauvignon Blanc-druif.”
Wynliefhebbers kan Flagstone gerus in die historiese dinamietfabriek in Paardevlei, Somerset-Wes, besoek om hulle reeks bekroonde wyne te proe.
Wen met die fnb top 10!
Ter viering van #SauvBlancDay staan een persoon die kans om ‘n volledige stel van die 2024 FNB Sauvignon Blanc SA Top 10 ter waarde van R2 500 te wen! Om deel te neem, besoek @SauvignonBlancSA op Instagram tussen 1 en 4 Mei 2025. Die wenner word op 5 Mei aangewys.
Vir meer inligting, besoek www.sauvignonblanc.com. Kyk ook uit vir die eerste boek ooit oor Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc in September vanjaar bekendstel geword. Baie dankie aan Sauvignon Blanc SA se vennote vir hulle ondersteuning: die Top 10-titelvennoot FNB, platinumvennoot Ever Solutions SA, silwervennoot Vinventions en brons vennoot Hillebrand Gori, a company of DHL.
Het jy geweet?
Sauvignon Blanc kom oorspronklik uit Wes-Frankryk. Die naam beteken “wilde wit”, waarskynlik afgelei van die Franse “sauvage” en “blanc”, blykbaar omdat Sauvignon Blanc-blare aan dié van wilde wingerdstokke herinner. Elke kultivar se wingerdblaar verskil. ’n Sauvignon Blanc-blaar is van mediumgrootte, heldergroen, en het gewoonlik vyf lobbe met diep insnydings tussen die lobbe en duidelike kartels langs die rande. Die trofee vir die FNB Sauvignon Blanc SA Top 10-toekennings word sedert 2019 gemaak deur die bekende keramiekkunstenaar Corinne de Haas. Elke keramiektrofee is net so uniek soos ‘n Sauvignon Blanc-blaar.
Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc in syfers
Tweede mees aangeplante druif in Suid-Afrika: 10 184 ha (ná Chenin Blanc met 15 913 ha)
Maak 11,8% van alle wyndruifaanplantings uit, ‘n toename van 1,6% sedert 2023
Sauvignon Blanc-wingerdoppervlakte het met 9,3% oor 10 jaar gegroei, terwyl die totale wingerdoppervlakte met 13% afgeneem het
In 2024 het Sauvignon Blanc die meeste nuwe aanplantings van enige kultivar gehad: 325 ha
Sauvignon Blanc-wingerdoppervlakte per streek (en % van totaal):
Robertson – 1 752 ha (17,2%)
Breedekloof – 1 637 ha (16,1%)
Stellenbosch – 1 517 ha (14,9%)
Swartland – 1 054 ha (10,3%)
Kaapstad – 964 ha (9,5%)
Paarl – 898 ha (8.8%)
Kaapse Suidkus – 738 ha (7.3%)
Worcester – 764 ha (7.5%)
Olifantsrivier – 740 ha (7.3%)
Klein Karoo – 75 ha (0.7%)
Noord-Kaap – 43 ha (0.4%)
(Bronne: Sauvignon Blanc SA, South Africa Wine, Sawis)