Ná die amptelike aankondiging onlangs oor ’n winkelsentrum wat in die afgeleë Drakensteindorpie Saron gebou gaan word, blyk dit die gemeenskap is maar erg verdeeld oor hierdie ontwikkeling.

Aan die een kant is die ontwikkelaar, Clinton Julius (uitvoerende hoof van JSRR Trading [Pty] Ltd), Hannes Smit (DA-raadslid vir Wyk 30 van die Drakenstein-munisipaliteit), en Stephen Joachims (DA-takvoorsitter) wat saam met die Drakenstein-munisipaliteit die ontwikkeling ten volle ondersteun om deur middel van die winkelsentrum ontwikkeling in die dorp aan te wakker.

Maar aan die ander kant is die Saron Communal Property Association (Sacpa) wat meen dat hulle die enigste wetlike struktuur is om die gronde van die Saron-gemeenskap te bestuur en te administreer en dat hulle in terme van die Trancra-wet van 1998 deur die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, dienooreenkomstig geregistreer en aangestel is.

Die Sacpa beskou die onlangse voorgenome ontwikkeling as onwettig en sê dit ondermyn die gemeenskap van Saron se reg op grondeienaarskap.

“Die Sacpa kan nie die pogings van enige individu of instansie ondersteun wat die gemeenskap van Saron van hul grond wil afsit of vervreem onder die voorwendsels van ekonomiese ontwikkeling en werkskepping nie,” het die voorsitter van die Sacpa , Dan Kotze, gesê.

Volgens hom is die gemeenskap van Saron uitgesluit om deel te neem aan enige besluite oor die sosiale en ekonomiese ontwikkeling van die grond.

“Die Sacpa het nie ’n aansoek vir die ontwikkeling van die grond van die ontwikkelaars of die Drakenstein-munisipaliteit (DM) ontvang nie, en neem kennis van die arrogansie van die ontwikkelaars om ’n kennisgewingbord op te rig op grond wat nie aan hulle toegeken is of wat hulle nie besit nie.

“Dit is nie die eerste keer dat die DM hom skuldig maak aan grondgrype in Saron nie. “Gedurende die Sacpa se onlangse interaksie met verskeie staatsdepartemente het dit onder ons aandag gekom dat die DM die grondeienaarskap van die gemeenskap vir jare ondermyn, sowel as die reg om oor hul eie grond te regeer.”

Verder meen Kotze dat die munisipaliteit binnekort ondersoek gaan word vir die wanbestuur van natuurlike hulpbronne, waaronder water wat aan die gemeenskap van Saron behoort.

Kotze sê verder dat Saron CPA ’n konsultasiemaatskappy aangestel het om ’n uitgebreide strategiese plan te ontwikkel, wat insluit landbou, ekonomiese, sosiale en kulturele ontwikkeling in vennootskap met die gemeenskap.

“Daarom is dit belangrik vir Sacpa om alleenlik grondgebruikaansoeke te ondersteun waaroor die begunstigdes en eiser gemeenskaplike beheer sal hê en dat die produksie van die grondgebruik vir die eksklusiewe kollektiewe voordeel van die mense aan wie die grond regmatig behoort, aangewend word. Saron CPA beywer hulle vir grondeienaarskap, sowel as eienaarskap van infrastruktuur en geboue deur die mense van Saron.

Kotze sê verder dat Sacpa bewus is van Drakenstein-munisipaliteit se aansoek by die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling vir die ontwikkeling van die winkelsentrum in Saron, maar beweer dat die aansoek afgekeur is “aangesien alle grond in die proses is om aan die Sacpa oorgedra te word in terme van die Trancra-wet van 1998 (Wet op Transformasie van sekere Landelike Gebiede, 94 van 1998)”.

“Hier sal dus geen mall gebou word nie alvorens alle gronde nie oorgedra is aan die Sacpa nie en die korrekte wetlike prosesse ten opsigte van ontwikkelingsprosesse en projekte nie gevolg word nie, en in konsultasie met die gemeenskap en departement.”



. Paarl Post
het die Drakenstein-munisipaliteit verskeie kere versoek om oor die aangeleentheid kommentaar te lewer, maar geen terugvoer is teen druktyd ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.