’n Groep inwoners van Saron, in die Drakenstein munisipale gebied, kan hulself nou huiseienaars noem nadat titelaktes onlangs aan hulle oorhandig is.
Die Wes-Kaapse LUR vir infrastruktuur, Tertuis Simmers, het op Donderdag 31 Oktober die oorhandiging saam met Stephen Korabie, burgemeester van Drakenstein, en ander raadslede gedoen. Altesaam 144 titelaktes is aan die begunstigdes van Saron oorhandig.
“Om titelaktes in Wet 9 van 1987-gebiede, soos Saron, te oorhandig, is altyd ’n baie spesiale geleentheid,” sê Simmers.
“Die oorblyfsels van die verlede is nog baie werklik vir baie Suid-Afrikaners, maar die oorhandiging van hierdie titelaktes beteken die begin van ’n nuwe hoofstuk vir hierdie gemeenskap, sy mense en vir toekomstige geslagte.”
Die Wet 9 van 1987-gebiede waarna Simmers verwys, is landelike gebiede in Suid-Afrika waar inwoners ingevolge die wet nie grond in daardie spesifieke gebied kon besit nie.
Saron is een van 24 sulke gebiede.
Volgens Simmers behels die projek die oorhandiging van die titelaktes uit 578 eiendomme, waarvan die laaste 144 titelaktes nou oorhandig is. Met die laaste oorhandiging is die projek afgehandel en tot ’n einde gebring.
“Ek is baie bly dat ons die laaste 144 titelaktes aan begunstigdes in Saron kan lewer en ek is geëerd om hierdie spesiale oomblik met die gemeenskap te deel,” sê Simmers. “Die Wes-Kaapse regering bly verbind tot die herstel en beskerming van die waardigheid van die mense van ons provinsie.”