Betogers versper verlede week die ingang na die Saron-oord met brandende bande en take weens besware oor onder meer dienslewering. Foto: Verskaf


Werkskepping, die stand van grondpaaie, ’n gebrek aan werkende straatligte en ’n behuisingsagterstand van bykans 28 jaar is van die kwessies wat inwoners van Saron verlede week tydens ’n twee dae lange diensleweringsbetoging aan die Drakenstein-munisipaliteit geopper het.

Die groep inwoners het verlede Woensdag en Donderdag na ’n munisipale oord in Saron opgeruk en buitebande gebrand, met ’n memorandum wat aan plaaslike owerhede oorhandig is.

Dit is glo by dié oord waar die Drakenstein-munisipaliteit seisoenale werkers van gebiede soos die Paarl, Wellington en Hermon huisves, het Nadia Williams, ’n Saron-inwoner en een van die organiseerders van die betoging, aan Paarl Post verduidelik.

“Dit is een van die redes hoekom ons besluit het om hier te kom betoog. Dit is hier waar die munisipaliteit ander plekke se mense laat bly en werk terwyl ons genoeg bevoegde mense hier in Saron het wie se werksaansoeke glad nie oorweeg word nie.

“Hulle woon gratis hier en hul vervoer word betaal wanneer hulle na hul huise moet reis. Intussen moet ons eie mense sukkel met vervoer. Vervoer word nie vir Saron se mense voorsien of betaal nie,” sê Williams.

Volgens haar is ’n pos vir ’n toesighouer by die Saron- munisipale oord onlangs twee keer adverteer en dit is skynbaar steeds nie gevul nie.

“Bevoegde mense van Saron, wat aan die vereistes voldoen, het aansoek gedoen, maar is nie eens oorweeg nie. Ons mense word nooit vir onderhoude genooi nie.”

Volgens Williams het inwoners verlede week ook die stem dik gemaak oor dié dat die munisipaliteit glo ’n agterstand van bykans 28 jaar ervaar wat behuisingsprojekte aanbetref.

“Geen gemeenskapsbehuising is die afgelope 28 jaar in Saron gebou nie. Ons buurdorpe het al so baie behuisprojekte in dieselfde tydperk gesien.”

Williams sê hulle eis ook dat die munisipaliteit aandag skenk aan die dorp se problematiese paaie.

“Saron se paaie is al vir die afgelope aantal jare in ’n haglike toestand. Dit is vol gate en word net een keer ’n jaar geskraap.

“Stormwaterstelsels bestaan feitlik nie hier nie. As dit dus swaar reën, verspoel huise, voertuie doen skade op en onderhoudskoste skiet die hoogte in.

“Daar is geen duidelikheid en rigting oor of ons paaie ooit geteer en behoorlik opgeknap gaan word nie.”

Volgens haar is straatligte in verskeie dele van die dorp al vir etlike jare buitewerking.

“Dit veroorsaak gewoonlik dat misdadigers kan doen net wat hulle wil, want hulle kan nie gesien word nie.

“Ons was al in kontak met Eskom en die munisipaliteit, maar niks word gedoen nie.

“Sommige lig- en kragpale is al vir so lank af dat misdadigers dit vir kabels begin teiken het omdat hulle weet die goed werk nie,” sê Williams.

Sy sê verder die gemeenskap sukkel nou al lank om munisipale wetstoepassers te kry om reg en orde ten opsigte van munisipale wetgewing te handhaaf.

“Informele strukture word reg oor Saron opgerig sonder water-, riool- en sanitasie-geriewe. Dit hou ’n brandgevaar en gesondheidsrisiko in.

“Rondlopervee is ’n probleem en hou ’n gevaar vir motoriste in. Hoekom word munisipale regulasies nie toegepas nie?”

’n Gebrek aan geriewe en werkende ligte by die plaaslike sportterrein is ingesluit in die memorandum wat Donderdag (3 Oktober) deur plaaslike amptenare ontvang is.

Die Drakenstein-munisipaliteit is sewe dae gegee om op die klagtes te reageer.

Die munisipaliteit het by navraag aan Paarl Post bevestig dat ’n vergadering met Saron-inwoners vir môre (Vrydag 11 Oktober) geskeduleer is.

“Tydens hierdie vergadering sal die munisipaliteit op die vrae wat in die memorandum uiteengesit is, reageer.

“Ons sal graag eers direk met die gemeenskap oor hierdie kwessies wil kommunikeer en nie deur die media in hierdie stadium nie,” het Eda Barnard, uitvoerende direkteur vir gemeenskapsveiligheid, by navraag gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.