Die Saron- Bekommerde Inwonersforum ((SBI) beskuldig ‘n plaaslike trust daarvan dat hy van drie trustees op ‘n onregmatige wyse ontslae geraak het en dat die trust weier om finansiële verslae oor gemeenskapsprojekte bekend te maak.
Die Gouda/Saron Wind Farm Trust is in 2011 gestig toe drie maatskappye beplan het om grond langs die R44 tussen Saron en Gouda vir die doeleindes van die windplaas, wat in 2015 geopen is, te ontwikkel.
Die idee was dat inwoners van beide gemeenskappe begunstigdes van die trust sou wees en dat die windplaas se opbrengs in die vorm van dividende met die twee dorpe deur die trust-rekening gedeel moes word.
Hierdie dividende moes dan vir gemeenskapsprojekte aangewend word.
Ingevolge die trust se grondwet moet die raad van trustees uit verteenwoordigers van al twee
dorpe bestaan.
Nadia Williams van die SBI het egter vandeesweek beweer dat die drie inwoners wat Saron op die raad verteenwoordig het, in 2020 op ‘n vergadering wat deur die destydse raadslid beroep is, onregmatig verwyder is.
Hulle is toe vervang met drie nuwe verteenwoordigers wat nog finaal deur die meester van die hof afgeteken moet word.
“Sommige trustees het nie daarvan gehou dat die drie
Saron-verteenwoordigers begin vrae vra het oor finansiële verslae en uitbetalings nie. Hulle was krities en wou hê die trust moes met deursigtigheid bestuur word.
“Hulle is toe opsetlik uitgesluit uit kennisgewings oor toekomstige vergaderings. Hierdie is toe gebruik om hul verwydering te regverdig,” sê Williams.
Volgens haar sukkel die SBI sedertdien om antwoorde oor die drie se verwydering te kry.
“Ons moes toe verlede jaar die SBI stig om net in die vorm van ‘n amptelike gemeenskapsgroep antwoorde te probeer kry.
“Ons wou ook hê die trust moet reageer op bewerings dat geld wat vir gemeenskapsprojekte aangewend moes word, misbruik is.
“Die trust is sedert 2020 nie
voltallig nie omdat die meester van die hof nog die nuwe lede moet goedkeur, maar tog word projekte gefinansier – projekte waarmee begin word, maar nooit voltooi word nie.
“Intussen weier hulle om enige finansiële verslae oor die afgelope paar jaar se bestedings beskikbaar te stel.”
Lesego Mosupye, die voorsitter van die raad van trustees, het by navraag aan Paarl Post bevestig dat die drie Saron-verteenwoordigers op ‘n vergadering in 2020 verwyder is.
“Hierdie aksie is eers op 5 Mei 2024 tydens ‘n gemeenskapsvergadering in Saron bevestig, aangesien die oorspronklike verteenwoordigers sedert 2020 nie meer vergaderings bygewoon het nie.
“Die nuwe Saron-gemeenskaps- verteenwoordigers wat aangewys is, is ná ‘n benoemingsproses bevestig en wat in die gemeenskap en by die wyksraadslid bekend gemaak is.
“Hierdie lede wag steeds op formele bevestiging deur die meester van die hof en is dus nog nie ten volle in hul poste aangewys nie.”
Volgens Mosupye het die trust al verskeie vergaderings met die Saron-gemeenskap gehad.
“Hierdie SBI-forum is egter eers so onlangs as November 2024 ingestel en het dus al die vorige vergaderings met die gemeenskap misgeloop.
“Ons is bereid om met alle gemeenskapslede in gesprek te tree, maar ongelukkig het ons in hier- die stadium bevestiging van die meester van die hof nodig voordat ons werk in gemeenskappe kan hervat. Ons vra dus vir geduld in die verband.”
Hy sê sodra die nuwe lede deur die meester van die hof goedgekeur is, sal ‘n gemeenskapsvergadering gehou word om terugvoer te gee oor die vordering van die trust en om prioriteite vir die komende finansiële jaar te bepaal.