Dit is vandeesweek presies ’n maand gelede toe die lewelose liggaam van die vermiste Tamia Botha op die perseel van Nederburg Primêr gevind is.
Die wreedaardige moord op die vierjarige meisie het landwyd opspraak gemaak en gemeenskapslede is woedend oor die sinnelose daad.
Tamia is Sondag 25 September laas lewend gesien toe sy voor haar woning in Daphnestraat, Paarl-Oos, gespeel het. Die hele gemeenskap, insluitend buurtwagte, het na Tamia gesoek nadat haar ma, Udene Botha, haar dieselfde dag by die plaaslike polisie as vermis aangemeld het.
Deurnag-soekgeselskappe het geen sukses gehad om die meisietjie op te spoor nie.
Haar liggaam is die volgende dag in lang gras ontdek.
Sedert haar dood is Tamia se ouers op ’n emosionele tuimeltrein. Twee mans is in verband met die kleuter se dood in hegtenis geneem, maar is later vrygelaat omdat die polisie nie genoegsame bewyse kon vind om hulle met die misdaad te verbind nie.
Gemeenskapslede is ook woedend omdat hulle voel die polisie hou hulle in die donker rakende die moordsaak. Baie van die inwoners is selfs nog meer emosioneel omdat die misdadiger nog op vrye voet is.
Duidelike vrees heers in die gemeenskap dat nog ’n kind ’n slagoffer van ’n gru-misdaad word.
By navraag aan die polisie rakende die vordering van die ondersoek in die moordsaak, het AO Joseph Swartbooi, ’n Wes-Kaapse provinsiale polisiewoordvoerder, gesê: “Die ondersoekbeampte soek na alle beskikbare leidrade in ’n poging om ’n deurbraak te verseker. Hierdie kantoor sal geen verdere inligting bekend maak wat die ondersoek in gevaar kan stel nie. Enigiemand met inligting word vriendelik versoek om die Stop Misdaad-nommer 08600 10111 te skakel.”
Indien enigiemand inligting het wat die polisie in die ondersoek kan help, bel gerus vir speurkonstabel Elmarco Martiens by 083 788 1114 of 021 872 3546.. This week marks the one month anniversary since the lifeless body of 4-year-old Tamia Botha was found on the premises of Nederburg Primary.


