Die Hugenote-tonnel buite die Paarl bly gesluit weens strukture skade nadat 'n bus Vrydagaand binne die tonnel aan die brand geraak het. Foto: Rasaad Adams
The Huguenot Tunnel outside Paarl remains closed due to structural damage after a bus caught fire inside the tunnel on Friday night. Photo: Rasaad Adams

Skade is gedoen aan die Hugenote-tonnel se betonvoering, beligting, kommunikasiestelsels, brandopsporing en ventilasie nadat ‘n bus die afgelope Vrydagaand binne die tonnel gebrand het, en herstelwerk kan tot twee weke duur.

Só het die Suid-Afrikaans Nasionale Padagentskap (Sanral) Sondag by navraag gesê.

Die bus het Vrydagaand (3 Oktober) omstreeks 23:00 in die tonnel aan die brand geraak.

LEESHugenote-tonnel gesluit weens ‘strukturele skade’ ná bus in nagtelike ure brand

Die bus was glo van Mthatha na Kaapstad onderweg.

Volgens die Drakenstein-munisipaliteit het ‘n Voorlopige ondersoek bevind dat die bus glo ‘n elektriese fout ervaar het.

Alle passasiers is veilig ontruim.

Een persoon het geringe beserings opgedoen en is na die hospitaal geneem.

Die ongelukstoneel Vrydagaand. Foto: Drakenstein-munisipaliteit
Die ongelukstoneel Vrydagaand. Foto: Drakenstein-munisipaliteit

Volgens Lwando Mahlasela, ‘n provinsiale woordvoerder vir Sanral, is die agentskap tans besig om die strukturele integriteit van die betrokke gedeelte van die tonnel te bepaal.

“Die strukturele integriteit het spesifiek betrekking op die betonvoering aan die sye en die plafon van die tonnel. Sodra hierdie beoordeling voltooi is, sal ons ’n beter begrip hê van die herstel- en/of vervanging van hierdie elemente.

“Ander toerusting soos beligting, kommunikasie, brandopsporing en ventilasie het ook uitgebreide skade oor ’n gedeelte van ongeveer 50 meter van die 3,9 km lange tonnel opgedoen,” het Mahlasela by navraag aan Paarl Post gesê.

Mahlasela sê dit is moeilik om ’n presiese sperdatum vir die voltooiing van herstelwerk en heropening van die tonnel te gee.

“Ons stel onsself ’n teiken van tussen een tot twee weke om die werk af te handel. Ons sal probeer om dit vroeër te voltooi, afhangend van die uitslae van die strukturele beoordeling en gegewe die druk op alternatiewe roetes.”

Die R101 (Du Toitskloofpas) sal voortaan gebruik word as die naaste alternatiewe roete om verkeer tussen die Paarl en Worcester te herlei waar twee stop-en-ry-punte tans in plek is te midde van padwerke.

“Alhoewel hierdie roete ’n aktiewe konstruksieterrein is, kan toegang onder verkeersbeheer toegelaat word.

“Gebruik asseblief hierdie roete met versigtigheid en verwag langer reistye.

“Hierdie reëling sal in plek bly totdat die Hugenote-tonnel weer oopgemaak word,” het Tertuis Simmers, die Wes-Kaapse LUR vir infrastruktuur Saterdag in ‘n verklaring gesê.

Die volgende alternatiewe roetes is deur die Wes-Kaapse Regering bevestig en beskikbaar:

  • Van Worcester na Kaapstad – via Wolseley–Wellington–Paarl na N1.
  • Van Kaapstad na Worcester – via Paarl–Wolseley–Worcester.
  • Die N2 kan via Worcester en Villiersdorp bereik word.
  • Die Bainskloofpas is slegs oop vir ligte motorvoertuie.
  • Die R101 (Du Toitskloofpas) is oop met minstens twee stop/ry-punte (verwag vertragings).
  • Swaar motorvoertuie moet die R46 (Touwsriver–Ceres–Gouda–Kaapstad) vermy weens ’n lengtebeperking van 15 m op die Franschhoekpas.

You need to be Logged In to leave a comment.