Die gebeure van die afgelope naweek was as’t ware bonatuurlik en niemand kon die omvang van die skade voorspel nie.
Talle inwoners van die vallei is dakloos gelaat en nog honderde is met groot skade gelaat. Daarby ook die hartseer nuus dat twee mense hul lewe in die stormweer verloor het.
Beweeg enkele dae aan en ’n mens moet werklikwaar ’n woord van dank rig aan die Drakenstein-munisipaliteit wat sedert Saterdagnag die ramp so goed moontlik probeer bestuur het.
Alle hande was aan boord om die publiek in hul nood by te staan.
Die Drakenstein-plaaswag het ook weer leiding geneem met al die brande wat in die vallei ontstaan het.
Talle mense in die vallei het ook uitgereik na hul medemens wat deur die storm geraak is. Bure het bure gehelp, weldoeners het sop uitgedeel, klere en komberse is geskenk aan behoeftiges, ensovoorts.
Selfs in Vrykyk het tienerseuns reeds Sondagmiddag ingespring om paaie wat deur boomtakke versper is, op te ruim.
Dít is mos hoe ’n gemeenskap moet saamwerk en nie net agter hoë mure wegskuil nie. Watter wonderlike vallei sou dit nie wees as die breë gemeenskap op ’n algemene basis hierdie verhouding van ubuntu het nie?