Bo is ’n blye Olivia le Cordeur, bestuurder van Wellington-museum, saam met ’n helpende hand, Eduard Wium (Pro Build). Foto: Christine Siebrits


Wat het daartoe gelei dat weldoeners besluit het om die Wellington- museum se mure op eie koste te verf?

Met sy besoek aan Wellington-museum is Eduard Wium gevra waarom hy besluit het om aan te bied om op eie koste die buitemure van die museum te verf.

Hierdie hulpvaardige inwoner het gesê hy en ander vriende het besluit om saam te span om sekere projekte in Wellington aan te pak.

Wium het vertel hy is ’n gebore en getoë Wellingtonner en het ook hier skoolgegaan. Hy het ’n intense belangstelling in sy dorp en veral in die geskiedenis van die dorp.

Die aangewese plek om met die eerste projek te begin, was dus Wellington-museum. Hierdie museum trek jaarliks veral buitelandse toeriste wat meer oor dr. Andrew Murray wil weet en ook dan die geskiedenis en agtergrond van die Seminarium- geboue (Cummings Hall, Bliss Hall Huis Ferguson, Huis Samuel en die Andrew Murray Jubileum-saal, en ook die huidige Hugenote-kollege).

Die ander mense betrokke by hierdie omgeeprojek is Morkel Pieterse en sy span van Kropman en Seun, wat die verf geskenk het. Sabre is genader as die ander borg en hulle het die spesifikasies bepaal van die soort verfmengsel wat gebruik moet word.

“Hierdie ‘samaritane’ is ’n riem onder die hart van Wellington se gemeenskap, veral in die lig van die afgelope jare van inperking en Covid-19. Dié positiewe gebaar het lig gebring in die harte van baie,” het die dankbare bestuur van die museum gesê.

“Baie dankie, Eduard en mede-helpers, die museum is julle innig dankbaar. Mag julle baie seën vir jul uitstekende werk ontvang.”

. Danksy ’n besoek deur lede van die plaaslike Voortrekkers aan geskiedkundige besienswaardighede in Wellington, is ’n belangrike monument tot sy vorige glorie herstel.

Dit volg nadat dr. Anton Nel, ’n lektor in die landboudepartement by KSUT Wellington-kampus en ook ’n ywerige Voortrekker-offisier, ’n groep gr. 6-Voortrekkers op ’n besigtigingstog deur Wellington geneem het om Wellington se gedenkwaardighede te leer ken.

Die Saterdagoggend is begin met ’n besoek aan Wellington-museum, waar hulle na ’n video van die geskiedenis van Wellington gekyk het, gevolg deur ’n begeleide toer deur die museum. Hierna is die historiese geboue besoek.

Die naweek is afgesluit met ’n besoek aan die Moedergemeente, wat die belangrike grafte, soos dié van Andrew Murray en die vroue van die Seminarium, ingesluit het. Hierdie mense het diep spore in Wellington se geskiedenis getrap.

Ongelukkig is die grafsteen van Anna Cummings deur vandale beskadig. Dit het in twee stukke op die grond gelê.

Dr. Nel, wat ’n passie vir geskiedenis het, het dadelik besluit dat hierdie grafskending nie sal deug nie.

Hy het Jaco Janse van Rensburg van Granite Dynamic genader om hulp en saam het die span gesorg dat die grafsteen herstel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article