Die Drakenstein-sakekamer en sy nasionale sambreel­organisasie, die AHI, streef daarna om erken te word as beïnvloeders en ontwrigters (movers and shakers) om positiewe uitkomste te beding vir die vestiging van ’n waardetoevoegende sakenetwerk in Drakenstein.

Die twee sakeliggame tree ook op as beskermhere vir groot maatskappye in hul ekostelsels waar verlang, en staan nyweraars by wanneer sake van gemeenskaplike belang met owerhede op plaaslike, nasionale en provinsiale vlak beding moet word. Die sakekamer beskou groot ondernemings as mentors en voorbeelde van uitnemendheid om na te streef.

Die sakekamer handhaaf ’n goeie verhouding met die plaaslike regering en ondersteun enige inisiatiewe wat entrepreneurskap en werkverskaffing kan bewerkstellig.

Hul missie word geskoei rondom die bemagtiging van die jeug en programme is reeds in wording wat fokus op voornemende jeugdiges en vroue wat die sakemark wil betree – hetsy deur die stigting van formele ondernemings of informele intreevlak-ondernemings.

Hiervoor is ’n jeugportefeulje onlangs geskep om aksies in dié verband te koördineer. Die sillabus fokus eerstens op lewensoriëntering om nuwe toetreders, wat die behoefte toon, in staat te stel om deur lewensafrigtig persoonlike besluite te kan neem vir ’n eie lewensplan, waarna verskeie opleidingskursusse aanlyn of in ’n klas-situasie aangebied sal word en sodoende kandidate in staat sal stel om ’n sakeplan op te stel. Die AHI het reeds gestruktureerde kursusse om nuwe entrepreneurs te onderrig wat op die beplanning en stigting van nuwe ondernemings gemik is. Hierdie program begin eersdaags met die eerste kandidate wat identifiseer word.

Die Sakekamer begin ook binnekort ’n reuseprogram vir werkskepping in samewerking met en gedryf deur die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, se kantoor, wat op ’n uitkomsgebaseerde basis geïmplimenteer sal word. ’n Bekendstellingsgeleentheid met al die plaaslike rolspelers word vir Junie 2023 beoog.

Die sakekamer se aksie om ’n wye en aktiewe sakenetwerk te vestig, lewer reeds goeie resultate met die maandelikse sakekoffiebyeenkomste wat wyd ondersteun word.

Die sakekamer beplan ook om ’n sake-ekspo in die winter te hou vir ondernemings wat hul produkte wil uitstal asook ander opwindende vorms van netwerkgeleenthede om te verseker dat sakeondernemings in die koue maande nie “in hibernasie” sal gaan nie.

Die sakekamer as ’n affiliaat van die AHI vorder goed met die belyning met die AHI se missie van inligting, advisering en netwerking deurdat sy aksies naatloos met dié van die AHI belyn is. Vir meer inligting oor die AHI se bedrywighede, besoek die webwerf www.myahi.co.za.. Dirk Breytenbach is die voorsitter van die Drakenstein-sakekamer.

You need to be Logged In to leave a comment.