Sailor Malan word beskou as een van die bekendste Wellingtonners van alle tye. In die Tweede Wêreldoorlog het hy as vlieënier van vegvliegtuie ongekende roem verwerf en daar word gesê dat hy altesaam minstens 35 vyandelike vliegtuie man-alleen in luggevegte afgeskiet het.
Om dit reg te kry het hy streng by die tien reëls vir luggevegte gehou wat hy vir sy mede-vlieëniers opgestel het. Een van die reëls het bepaal dat jy nie op ’n vyandelike vliegtuig begin skiet voordat jy die wit van dié vlieënier se oë kan sien nie!
Sailor Malan is as Adolph Gysbert Malan op 3 Oktober 1910 op ’n plaas in die omgewing van Wellington gebore. Sy ouers was Willie Malan en Evelyn Forde Jordan. Sy oupagrootjie was Petrus Jacobus Malan van die plaas Versailles en sy vader het op die plaas Groenfontein in die Bovlei geboer. Sy moeder was die dogter van ’n Britse gesin wat hulle op Wellington kom vestig het en later landwyd bekend geword het vir die Jordan-skoene wat hulle op Wellington vervaardig het.
Sailor Malan moes skool vroeg verlaat. Hy het op 14-jarige ouderdom ’n leerling-kadet op die opleidingskip, die Generaal Botha, geword. Op 16-jarige leeftyd het hy ’n leerling kadet-offisier op die Britse vaartuig, die Landsdown Castle, geword. Kort daarna het hy met sy opleiding as vlieënier begin en ’n paar jaar later het hy op 25-jarige ouderdom by die Britse lugmag aangesluit. Sy mede-vlieëniers het hom, omdat hy van die vloot af gekom het, “Sailor” gedoop en die naam het later deel van hom geword.
Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het hy ’n offisier in 74 eskader van die Britse lugmag geword. Hy het aan verskeie groot luggevegte deelgeneem en verstommende resultate as vegvlieënier behaal – soveel so dat daar gesê is dat Sailor Malan “die koning se gunsteling Afrikaner is!”
Een van sy bewonderaars was die Britse premier van daardie tyd, Winston Churchill en toe Sailor Malan se seuntjie vroeg in die oorlogsjare gebore is, is hy Jonathan Winston Malan gedoop want sy peetpa was Winston Churchill.
Ná die oorlog het Sailor Malan en sy gesin hulle in Suid-Afrika kom vestig. Hy het vir Anglo American gewerk en het later ’n plaas naby Kimberley aangeskaf waarop hy geboer het. Hy het ook lid geword van die Torch Commando, ’n organisasie wat hulle verset het teen die Nasionale Party se apartheidsbeleid. Hy het gevorder tot hoof van die Torch Commando en die organisasie se ledetal het gegroei tot 250 000.
In 1963 is Sailor Malan skielik op 52-jarige ouderdom oorlede. Ondanks sy roemryke loopbaan as offisier in die Britse lugmag wou die Suid-Afrikaanse regering nie toestemming gee dat hy met militêre eerbewys begrawe word nie. Die owerhede in Suid-Afrika se pogings om sy nalatenskap uit te wis was so suksesvol dat min mense vandag iets van die roemryke Wellingtonner van weleer weet.