Die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf steier onder die gevolge van die onlangse oorstromings in belangrike produksiegebiede, veral in Elgin, Grabouw, Vyeboom en Villiersdorp, dele van die Klein-Karoo en Franschhoek.
Die sagtevrugte-organisasie Hortgro sê in ’n verklaring dit blyk uit ’n krisisgesprek met die Wes-Kaapse departement van landbou dat die aanvanklike skade aan infrastruktuur in dié produksiegebied tussen R400 miljoen en R500 miljoen kan beloop. Sagtevrugte is die grootste landbou-kommoditeit wat in die streek verbou word.
Volgens Hortgro het die landbou-departement ’n toepassing beskikbaar gestel om ’n opname onder produsente wat skade gely het, te doen. Voorlopige data wat hierdeur van 26 produsente in die Grabouw-streek ingesamel is, dui op vloedskade in dié gebied van sowat R160 miljoen. Dit sluit nie Villiersdorp en Vyeboom in nie.
Skade aan infrastruktuur sluit in kragnetwerke, boorde, net-strukture, geboue, masjinerie, besproeiingstoerusting en -kanale, paaie en brûe wat weggespoel het. Die afgelope naweek se reën het boonop verdere skade aangerig.
Talle paaie en brûe op plase self is heeltemal weggespoel. Anton Rabe, Hortgro se uitvoerende direkteur, sê bo-grond en talle boorde het ook in die slag gebly.
Die produksieseisoen, wat nou in alle erns begin, is erg ontwrig omdat bestuiwing en spuitprogramme nie volgens beplanning verloop nie.
Rabe sê dit is van groot belang dat belangrike toegangspaaie en brûe in so ’n mate herstel word dat produsente werkers op plase kan kry en steenvrug-produsente, wat oor ’n paar weke begin oes, hul vrugte by die markte kan kry.
Talle pakhuise in die streek is vol vrugte wat vir die uitvoermark bestem is en by die hawe moet kom.
Die herstel en vervanging van besproeiingskanale sowel as waterpype en -pompe is kritiek om die seisoen te probeer red, maar kragtoevoer en selfoonontvangs is nog nie oral herstel nie, wat dit logisties moeilik maak om hulp te verleen, sê Rabe.