Die Newline-saalperdstoet van die Paarl het by vanjaar se Bloemskou van 25 April tot 4 Mei opnuut bekendheid verwerf toe dié sjarmante diere, sonder té veel moeite, die een prys ná die ander verower het.
Volgens Ross Millin, die eienaar van die Newline-stoet, het die Newline-perde vanjaar wêreldwyd geskiedenis gemaak toe die nege perde wat hy na die skou geneem het, 13 eerste plekke verower en ’n bykomende ses grootkampioentitels ingeryg het.
Volgens Millin was dit omtrent nét Newline-perde, wat deur internasionale beoordelaars aangewys is, op die podium.
Die Newline-perde se bloedlyne stam uit Suid-Afrika en Amerika, met Millin wat ook gereeld Kentucky in Noord-Amerika besoek, waar een van sy teelmerries, die sewejarige Katharine’s Last Tango, tans gehuisves word.
Millin het in Robertson grootgeword en het as kind jaarliks die saalperd-skou in die dorp bygewoon, waarvoor sy ma vir hom ’n toebroodjie gepak het. In daardie jare was dié skou die tweede grootste in Suid-Afrika.
As kind het die storie hom jaar ná jaar herhaal totdat hy as volwassene sy eerste saalperd, Miss Tinkerbelle, in 1997 kon koop.
Tydens die Bloemskou het Millin se saalperde 13 blou linte (13 eerste plekke) behaal, terwyl ses vir die grootkampioen-afdeling gekwalifiseer het en al ses daarvolgens gekroon is.
Vier van die ses is vullens van Undulata’s Made In Heaven wat vier nasionale grootkampioen-driegangtitels verower het, terwyl die ander twee perde vullens is van Millin se eerste hings, Tornado’s Perfect Timing.
Timing’s Perfect 10 is as die grootkampioen in die siertuigklas, met natuurlike maanhaar- en stertafdeling, gekroon terwyl die tweede vul, ’n merrie, Premier’s Dare To Dream as die grootkampioen-siertuigplesierperd gekroon is.
“Haar pa [Premier’s Dare To Dream] is ook ’n ingevoerde hings, HS Daydream’s Premier Night,” het Millin verduidelik.
Van die laaste vier vullens van Undulata’s Made In Heaven is die merrie Lady From Heaven, wat met Millin se perdeafrigter in die saal, Junior Hugo, as die grootkampioen-vyfgangperd vir ’n manlike vertoner gekroon is.
“Die hings Heaven’s Solitaire was die siertuig-grootkampioen, ook met Junior aan die stuur, en die reun Flash Bin Heaven het twee jaar nadat sy pa die driegangtitel-grootkampioenskap gewen het, dit weer verower,” volgens Millin.
Junika Hugo (16), Junior se dogter, wat nes haar pa ’n bobaasruiter en -afrigter is, het op nog ’n Heaven-vul, die merrie Belle From Heaven, die driegang-titel vir junior ruiters verower.
“Die grootste kompliment wat die Amerikaanse beoordelaars vanjaar aan my kon gee, is toe hulle gesê het hulle kon die Newline-perde duidelik uitken in die baan en hoe hulle fenotipies lyk, dus het ek ná 10 jaar in my doel geslaag,” het Millin vertel.
Volgens Junior, Millin se perdeafrigter wat ook die Tears and Roses-stalle in Sonstraalweg besit, waar Millin se saalperde woon, is sy resep vir sukses om 365 dae van die jaar “jou deel te doen”.
“Junior is volgens my die beste afrigter in Suid-Afrika en een van die bestes ter wêreld. Dit help nie ’n mens teel goeie perde. maar dan gee jy hulle nie vir ’n goeie afrigter nie,” het Millin gesê.
“Hierdie skou was vir my en Junior ’n droomskou,” volgens hom.