Die omstrede saak teen die oud-Springbok-roeier Jan (JT) Basson (65) en John Woest (68), twee boere van die Paarl wat glo ’n vermeende vrugtedief in 2021 doodgeskiet en ’n ander na bewering aangerand het, is weer eens deur die hooggeregshof uitgestel – dié keer tot Maart aanstaande jaar.
Die saak, wat tans in die Kaapse hooggeregshof dien nadat dit in Augustus 2022 van die Paarl-landdroshof oorgeplaas is, sal dan eers hervat weens ’n tekort aan regters wat die saak kan aanhoor, volgens Eric Ntabazalila, die Nasionale Vervolgingsgesag (NVA) se Wes-Kaapse woordvoerder.
“[Die saak is] uitgestel tot 15 Maart 2024 vir ’n voorverhoor om ’n verhoordatum te reël,” het Ntabazalila gesê.
Die aanklaer in die verhoor van Basson en Woest, adv. Kepler Uys, het op 30 Oktober in die hooggeregshof aan regter Mas-udah Pangarker gesê die saak is gereed vir verhoor, maar bygevoeg ’n regter is nie toegewys nie.
“Pangarker het dit bevestig en gesê die opdrag van die waarnemende regter-president van die Wes-Kaap, Patricia Goliath, is om die saak tot 15 Maart 2024 uit te stel en dit op die rol vir voorverhoor te plaas. Dit beteken daar sal na alle waarskynlikheid ook nie ’n regter in daardie tyd beskikbaar wees om die saak te verhoor nie,” het Netwerk24 op 30 Oktober berig.
Basson staan volgens die klagstaat tereg op aanklagte van aanranding, die rig van ’n vuurwapen, poging tot moord en moord, terwyl Woest van poging tot moord en moord aangekla word.
Basson, die eienaar van Salem Boerdery, en Woest, wat al twee plase langs die Sonstraalpad in die Paarl besit, word daarvan beskuldig dat hulle Chatwell Rodgers (40), ’n vermeende vrugtedief en -verkoper van Amstelhof in die Paarl, op 30 November 2021 doodgeskiet het nadat die twee boere die slagoffer tussen die Sonstraalbrug en die N1 met vrugte in die hand gewaar het.
“Skote is afgevuur nadat ’n beweerde konfrontasie laat die middag tussen die twee boere en ’n vrugteverkoper, Chatwell Rodgers, ontstaan het
,” het Paarl Post op 3 Desember 2021 berig.
Die konfrontasie het na bewering ontstaan toe die aangeklaagdes die slagoffer oor vermeende vrugtediefstal genader het, luidens die berig.
“Die slagoffer en twee vriende het vrugte op die brug verkoop toe die aangeklaagdes hulle begin agtervolg en op die slagoffer begin skiet het.
Volgens die berig van 3 Desember 2021 het die twee boere beweer die slagoffer wou hulle met ’n panga aanval, maar ’n voorlopige ondersoek het getoon dat die slagoffer wonde in sy rug gehad het.
Volgens ’n Netwerk24-berig op 2 Desember 2021 is twee haelgeweer-skote afgevuur nadat die drie vrugteverkopers van die brug af na die N1 probeer vlug het, waarna Rodgers noodlottig deur ’n koeël in die rug getref is en op die toneel gesterf het.
Nadat die Paarl-polisie op die toneel opgedaag het, het albei boere hulle aan die polisie oorhandig, waarna hulle in aanhouding geplaas is.
Die staat het aangevoer dat die moord vooraf deur die twee aangeklaagdes beplan is.
Luidens die klagstaat van 30 Oktober, word Basson – buiten dat hy aangekla word van die moord op Rodgers op 30 November 2021 – ook aangekla van die aanranding op Arnold Coetzee, wat saam met Rodgers op die toneel was.
Volgens die klagstaat het Basson Coetzee op dieselfde dag op die Sonstraalpad aangerand deur hom op sy bors te slaan en het hy ook ’n vuurwapen op hom gerig.
Verder word beide Basson en Woest daarvan beskuldig dat hulle op 30 November 2021 op die Sonstraalpad in die Paarl probeer het om Coetzee te vermoor deur op hom te skiet.
Basson word deur die bekende strafregprokureur William Booth verteenwoordig, terwyl Woest deur advokaat Marius van Zyl verteenwoordig word.