Die Paarl-landdroshof. Foto: Rasaad Adams


Die saak teen Tino Beukes (22), die man wie in hegtenis geneem is in verband met die aanval en roof op ’n 45-jarige vrou wat verlede week op die Paarlberg gaan stap het, is tot Dinsdag (11 Maart) in die Paarl-landdroshof uitgestel wanneer hy om borgtog aansoek sal doen.

Beukes word ook aangekla van seksuele aanranding nadat hy, volgens die slagoffer, haar tydens die aanval probeer verkrag het.

Hy het Dinsdag (4 Maart) die beskuldigde bank in ’n wit t-hemp en swart langbroek betree.

Beukes het aanvanklik aan die hof aangedui dat hy homself in die saak gaan verteenwoordig en nie van regshulp gebruik gaan maak nie.

Hy het daarna skielik hardop geskree: “maar ek het dit mos nie gedoen nie”.

Die landdros het hierop reageer met: “maar dan moet jy mos nie nou al pleit nie”.

Beukes het toe regshulp aanvaar en aangedui dat hy wil voortgaan met sy aansoek om borgtog wat volgende Dinsdag aangehoor sal word.

Hy bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning.

Paarl Post kon teen druktyd nie by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) bevestig presies waarvan Beukes alles aangekla word nie.

Die 45-jarige vrou, wie verlede week op voorwaarde van anonimiteit met Paarl Post oor die voorval gepraat het, het gesê sy was Saterdag, 22 Februarie op ’n roete naby die Victoria-dam op Paarlberg toe haar aanvaller toegeslaan het.

Sy was op ’n video-oproep met haar suster toe sy ’n weerkaatsing op haar foonskerm sien van iemand wat agter haar skuil.

Dit was duidelik dat hy my wou verkrag. Ek het alles in my vermoë gedoen om hom van my af weg te kry.

Toe sy besef sy kan nie opdraand vlug nie, het sy blitsig besluit om om te draai en verby haar agtervolger terug te probeer hardloop na Jan Phillips-bergpad toe.

Maar haar aanvaller het ’n klip na haar gegooi en haar oorweldig, en haar gewelddadig op die grond neergegooi.

“Dit was duidelik dat hy my wou verkrag,” het die vrou vertel.

“Ek het alles in my vermoë gedoen om hom van my af weg te kry.”

Ná ’n hewige geveg het sy uiteindelik daarin geslaag om uit haar aanvaller se greep te ontsnap.

Sy het na die pad gehardloop en sowat 20 meter verder het ander stappers haar te hulp gesnel.

’n Soekgroep is spoedig saamgestel waarna Beukes deur die lede van die gemeenskap aangekeer en aan die Paarl-polisie oorhandig is.

Volgens ooggetuies het Beukes, toe hy deur die soekgroep gekonfronteer is, homself onmiddellik oorgegee, sy hande opgelig en die vrou se selfoon laat val.

Ten spyte van haar traumatiese beproewing het die vrou enorme dankbaarheid uitgespreek.

“Ek is baie gelukkig om net met snye, skrapies en kneusplekke daarvan afgekom het.”

Sy het die Paarl-gemeenskap geprys vir hul vinnige optrede en hulp om haar aanvaller op te spoor, asook die polisie, wat sy as “uiters hulpvaardig en simpatiek” beskryf het.

Intussen het die plaaslike polisie stappers, drawwers en fietsryers aangeraai aan om in groepe te beweeg en by besiger dele van die berg te bly indien moontlik.

You need to be Logged In to leave a comment.