WAARSKUWING: Die inhoud van hierdie berig kan sommige lesers ontstel.
Die saak van drie mans wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n negejarige seun in Klapmuts aangerand en ontvoer het, het op 25 April in die streekhof in die Paarl verskyn. Die saak is hiertydens weer uitgestel.
Justin Limco (21), Nathan Nuuvenhuis (24) en Zane Marthinus (34) word elk deur vier aanklagte in die gesig gestaar, naamlik ontvoering, poging tot moord deur middel van elektriese skok, poging tot moord deur middel van verdrinking en poging tot moord deur middel van aanranding.
Dit is op 8 Februarie se hofverrigtinge in die Paarl-landdroshof bekend gemaak toe die beskuldigdes die eerste keer in die hof verskyn het.
Hulle het borgtog laat vaar en sal aangehou word tot hul volgende hofverskyning.
Die voorval, wat op video vasgevang is, spruit uit ’n onderonsie tussen die drie mans en die minderjarige, waar hulle hom daarvan beskuldig dat hy glo R600 van hulle gesteel het. Die voorval het blykbaar op 25 Januarie plaasgevind.
Volgens die seun se ma het sy eers twee dae later van die voorval gehoor en daarna op 28 Januarie ’n klagte die by Klapmuts-polisiekantoor aangemeld.
Sy het op ’n vorige geleentheid aan Paarl Post verduidelik dat haar seun niks oor die video gesê het nie – “seker uit vrees” – en dat sy daarvan gehoor het toe iemand wat glo tydens die voorval teenwoordig was, haar vertel het.
In dié video, wat soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het en intussen verwyder is, kan gesien word hoe drie mans die minderjarige deur middel van oorleikabels skok.
Die video wys hoe die seun se hande aan ’n staalsaag met plastiek-kabelbinders vasgebind is en daarna met oorleikabels aan ’n Volkswagen Golf se battery verbind is.
Daarna word water oor die staalsaag gegooi, waarna die oorleikabels aan die saag vasgeknip word sodat dit die seun skok.
Die marteling duur dan voort toe die seun met ’n gordel geslaan word. Daarna gooi die seun se aanranders hom kop eerste in ’n munisipale drom en probeer hom versmoor nadat hulle die drom se deksel toegemaak het.
LEES OOK: Klapmuts-mans wat minderjarige aanrand se saak oorgeplaas na streekshof
Die video eindig waar die drie misdadigers ’n waterpyp in die drom druk met die doel om die seun te verdrink.
Reg deur die video kan gesien en gehoor word hoe die seun huil en om sy lewe smeek, terwyl omstanders lag.
Die familie en oortreders woon in dieselfde straat in Klapmuts en is bure van mekaar.
Die seun en sy familie se name word weerhou omdat hy minderjarig is.