Saai in jonges se lewe

Een visie, twee vroue, drie studente en baie geloof – dit tref jy by Collegestraat 8 in Wellington aan waar Valley Agriskills, ’n organisasie sonder winsbejag, onlangs werklose jongmense met Bybelse beginsels en ’n handvol saad begin bemagtig het.


Een visie, twee vroue, drie studente en baie geloof – dit tref jy by Collegestraat 8 in Wellington aan waar Valley Agriskills, ’n organisasie sonder winsbejag, onlangs werklose jongmense met Bybelse beginsels en ’n handvol saad begin bemagtig het.

Geloof is die grondslag waarop hier geplant en tussenin geleer word.

Die kursusleier, die afgetrede dosent in landboukunde Marieta Hall wat voorheen aan KSUT in Wellington verbonde was, en Hensa Peacock het besluit om hul ervaring en liefde in tuinbou met werklose jongmense van Paarl-Oos, Mbekweni en Wellington te deel.

Jongmense word by Valley Agriskills in die Drakenstein-vallei, soos die naam aandui, met tuinbouvaardighede toegerus om uit niks ’n tuin te begin en selfonderhoudend te word.

Hensa vertel: “Ons is bewus van die groot nood en werkloosheid onder die jeug en het besluit om oor kleurgrense uit te reik om ’n daadwerklike verskil te maak. Hoewel hierdie maar eers ons derde opleidingsessie vir die jaar is, is ons opgewonde oor ons oes tot dusver.”

Sy vertel van ’n jongman in Mbkeweni wat verlede jaar ma­triek geslaag het, nou ’n oor­brug­gingsjaar vat en volgende jaar onderwys wil studeer. Hy het besluit om die gratis sewedaagse kursus by te woon en spog al met vier tuine in hul straat waar bure ook nou groen vingers ontdek.

Marieta sien reeds groot poten­siaal in die jongman om sy onder­wysers droomvlerke te gee om veral praktiese lesse uit die groentetuin by die opleiding­sentrum aan te bied.

“Hier sien jy met jou eie oë wat ons studente in die klas in net sewe dae leer en hoe sade binne enkele weke ontkiem en as vars groente en allerlei kruie groei,” vertel Hensa trots.

By Valley-skills se pragtige Victoriaanse gebou, knus onder die groen bome in Collegestraat, word studente eenvoudige landboubeginsels geleer om groente, vrugte en kruie te plant. Die gewasse wat die eerste groep studente sowat ’n maand gelede geplant het, word tans deur nuwe studente geoes. Gratis middagetes word vir die kursusgangers daar­uit voorberei dat hulle kan sien wat alles met hul gewasse voorbe­rei kan word – inderdaad ’n wenresep.

Marieta en Hensa is opgewonde oor hul planne met die projek en onderhandelinge is aan die gang met ander groot instellings wat ook ’n saadjie wil plant om die huidige beddings uit te brei – een visie en twee vroue wat in jong­mense se lewe plant.

Werklose jongmense kan navrae oor die kursusse aan Hensa by 061 418 2895 rig.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.