Januarie 2023 gaan nuwe lewe in plaaslike krieket blaas wanneer die T20-liga, ’n plofbare, opwindende krieketreeks wat die gesig van Suid-Afrikaanse krieket gaan verander, plaasvind.
Die SA20 is gegrond op lewendige, gewaagde en energieke krieket, met al die dinamiese elemente wat sinoniem met T20-krieket is.
Graeme Smith, die ligakommissaris van SA20, sê die reeks sal ’n kompetisie vir almal wees.
“Om die T in T20-krieket te laat val, wys ons voorneme om anders te wees. Ons wil die spel vir ons spelers en ons ondersteuners verander, en bowenal ’n liga skep waarvan alle Suid-Afrikaners deel kan wees.”
Die SA20 het van T20-krieket se wêreldsterre, onder wie Liam Livingstone, Jos Buttler, Jason Holder, Rashid Khan en Moeen Ali, gelok om by die lys wêreldklas gekontrakteerde Protea-spelers te voeg.
“Ons hoop aanhangers sal hulle met ons handelsmerk kan vereenselwig terwyl ons daaraan werk om die SA20 ’n wêreldklas-toernooi te maak waarop Suid-Afrikaners trots kan wees.”
En net verlede week het die opwinding hieroor nog verder gegroei met die meer as R125 miljoen wat op ’n veiling in Kaapstad vir krieketspelers gespat het toe die ses franchise-spanne voortgegaan het om hul spanne voor die eerste SA20-toernooi volgende jaar te finaliseer.
Ná ’n intense agt uur lange veiling by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum is 80 spelers uit ’n poel van 318 “verkoop”, van wie 53 Suid-Afrikaners was.
Bolandpark se Paarl Royals is boaan die lys gunstelinge vir die toernooi, meen krieketkenners.
Die Namibiese breier Pierre de Bruyn het gesê die span het ’n goeie balans tussen T20-kolwers van wêreldgehalte met die X-faktor en ’n goed gebalanseerde boulaanval.
Jason Roy en Jos Buttler is spelers van wêreldgehalte in die kortste formaat en David Miller beleef ook ’n droomjaar. Tabraiz Shamsi en Lungi Ngidi is bekend daarvoor om vreesaanjaende boulaanvalle weg te stuur. Dan is daar gevaarlike bybreekboulers soos Rashid Khan, Kagiso Rabada en Beuran Hendricks.
Die Royals sal ook sterk leierskap geniet met JP Duminy as hoofafrigter.
Die amptelike rooster vir die SA20 is nog nie bekend gemaak nie, maar Paarliete kan hulle regmaak vir ’n feesmaal van blitsvinnige en lewendige krieket op Bolandpark in 2023.