Die Rusthof-ouetehuis in die Paarl. Foto: Val de Vie Estate/Facebook


Die Rusthof-ouetehuis in Paarl-Oos is nie van plan om in die nabye toekoms na ’n ander perseel te verhuis nie, het die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling bevestig.

Dit volg nadat gerugte die ronde gedoen het dat dié ouetehuis, in Bauhiniastraat in Magnolia, binnekort gaan skuif.

Esther Lewis, hoof van kommunikasie by die departement, sê daar is geen planne om die ouetehuis te verskuif nie.

“Die direksie [van die ouetehuis] is egter besig om die aangrensende eiendom, wat hy besit, te verkoop,” sê Lewis.

Lewis voeg by dat alle ouetehuise in die Wes-Kaap privaat besit en bestuur word, en dat die departement die 114 ouetehuise in die provinsie gedeeltelik finansier.

“Die departement van maatskaplike ontwikkeling is verantwoordelik vir registrasie en monitering van norme en standaarde soos voorgeskryf in die Wet op Ouer Mense. Die operasionele bestuur van die fasiliteite val binne die bestek van die direksie en sy bestuurspanne.”

Die Rusthof-ouetehuis se bestuur dra nie kennis van die gerugte en hoe dit ontstaan het nie.

You need to be Logged In to leave a comment.