Winnie Rust se dogter, Helena Reid, spreek gaste toe by die bekendstelling van die Winnie Rust-stigting. By haar is haar dogters Emma en Lena.Foto: Danelle Photography


Die nalatenskap van die Afrikaanse skrywer Winnie Rust gaan voortleef, nie net in haar skryfwerk wat verewig is nie, maar nou ook te danke aan die Winnie Rust-stigting wat Saterdag in Stellenbosch bekend gestel is.

Mense regdeur die land is in Mei 2016 geskok toe Winnie in haar huis in Wellington vermoor is. ’n Jong man wat sy finansieel ondersteun het en vir wie sy ’n moederfiguur was, is verlede jaar saam met ’n medepligtige aan haar moord skuldig bevind.

Ná die tragedie het die familie besluit om daadwerklik te probeer om nié instinktief in sinisme en haat te verval nie. Hoewel hulle besef het dit sou uitdagend wees, het hulle gekies om soos hul ma met “oop arms” te leef.

In ’n poging om salf aan hul eie wonde te smeer, en ook aan dié van ander wat deur ’n soortgelyke lot getref is, het hulle die Winnie Rust-stigting op die been gebring.

Dit is die familie se hoop en verwagting dat Winnie Rust se naam op die lange duur nie aan ’n wrede, sinlose daad gekoppel sal word nie. Hulle hoop dit sal eerder vereenselwig word met helder vooruitsigte en drome wat verwesenlik word – ’n meer gepaste uiteinde vir iemand wat in haar andersins gelukkige en geseënde lewe optimisties, vrolik en meelewend was.

Vanjaar se begunstigdes is twee volwasse studente wat finansiële ondersteuning sal ontvang: een vir ’n praktiese kursus by die Sorbet-skoonheidsinstituut om as naelversorger opgelei te word en ’n ander vir ’n akademiese LLB-kursus by Unisa.

Drie hoërskoolseuns word ook geborg: ’n graad 11-leerder om buitemuurse kunsklasse by die PJ Olivier-kunssentrum in Stellenbosch by te woon en twee gr.8-seuns om in te skryf by The Calling Education Academy buite Stellenbosch waar seuns van arm gemeenskappe toegang tot hoëgehalte-opvoeding kry.

Die stigting borg ook twee toekennings: die Winnie Rust-toekenning wat jaarliks deur die Wellington-museum toegeken word aan ’n inspirerende vrou wat ’n positiewe verskil in haar gemeenskap maak, asook die Hugenote Hoërskool Kreatiewe Skryfwerk-prys wat by die skool se jaarlikse prysuitdeling in Wellington toegeken word.

“Vir ons as familie is dit belangrik en simbolies om die slegte met die goeie te vervang, om ’n dag wat sleg sou wees, hoopvol te maak,” het Helena Reid, Rust se dogter, gesê.

“Ons maak die dag ’n viering van haar lewe en erfenis. Dit (haar erfenis) is iets wat ons wil laat voortleef.”

Belangstellendes kan die stigting by 083 650 7918 bel of www.winnierust.org vir meer inligting besoek.

Mense wat daarin belangstel om donasies te maak, kan ook die BackaBuddy-webwerf besoek.

You need to be Logged In to leave a comment.