Geagte Meneer De Ruyter en mede-Eskom-ruiters
Daar is min dinge wat my deesdae buitengewoon opgewonde maak.
Die sonsopkoms oor Simonsberg – ja.
Die wingerd wat doublink en woudgroen in die stilte van die oggenduur op aandag staan, wagtend op die dag se wind – ja.
Die perde wat ligvoets fier en met leninge lywe uit hul stalle draf – ja.
Die kolganse en hul kleintjies wat tussen die waterlelies na ’n oggendkossie soek – ja.
Daarby kan niks kers vashou nie – nie die Springbokke of Faf in sy glorieryke broekie nie; nie Elon Musk met al sy aardse rykdomme nie; nie Trevor Noah met sy mees gevatte sêgoed nie; en gewis nie Hollywood se beeldskone, nou omstrede, Charlize nie.
Nee wat. Voel ek die dag ’n bietjie soos Piet Verdriet met ’n pap battery, saal ek net vir Pronk op en gee hom vrye teuels op die plaas. Dis ’n instant kragopwekker!
Dis daar op Pronk se rug waar my gedagtes toe mos op loop gaan …
Waar sou die mensdom vandag gewees het as dit nie vir ruiters was nie – daardie rare spesie wat met perde kan hardloop, wat die roeping en die prys verstaan, en te midde daarvan die hand aan die ploeg slaan. Dít maak my buitengewoon opgewonde, want dít is lewe in sy hoogste vorm.
Mag ons elkeen op ons beurt die krag kry om ’n ruiter te wees. Maar moet dit nie met ridder-wees verwar nie. Ridders en ruiters trek nie in dieselfde tuig nie.
Sonder ruiters sou die land inderdaad ’n stikdonker plek gewees het. Terwyl daar nog lig is, mag ons elkeen kers opsteek by dié wie se lampe brand.
Boland-groete,

