Almé Engelbrecht is Wellington se eie aspirant-ruimtereisiger.
In Julie vanjaar gaan sy saam met ’n groep jong mense van oor die wêreld ’n spesiale kursus in ruimtevaart by die Amerikaanse ruimte-agentskap Nasa se ruimteskool in Houston, Texas, doen.
Almé, ’n gr. 11-leerder aan die Hugenote Hoërskool op Wellington, het pas verneem dat sy een van slegs twee Suid-Afrikaners is wat saam met tientalle jong mense uit ander wêrelddele gekies is om ’n spesiale kursus van twee weke by Nasa se United Space School in Houston by te woon.
Die tema van die kursus is “ ’n Bemande sending na Mars”.
Die kursus word onder andere deur bekende ruimtereisigers, sielkundiges en wetenskaplikes wat in die bou van ruimtetuie en die beplanning van ruimtereise spesialiseer, aangebied.
Die doel van die kursus is volgens Nasa om ’n nuwe geslag jong mense van oor die wêreld die geleentheid te bied om eerstehands kennis te maak met moderne ruimtetuie en die beplanning van ruimtereise.
Met behulp van die kursus kry jong mense die geleentheid om nader kennis te maak met die ruimtevaarders, wetenskaplikes, mediese personeel, beplanners en ingenieurs wat gemoeid is met die ontwikkeling van Nasa se uitgebreide ruimtereise.
Studente sal meer te wete kom van die fisiologiese en sielkundige uitwerking van lang ruimtereise en van gewigloosheid op die menslike liggaam, asook oor die aandrywing van vuurpyle en die moontlikhede vir die menslike verkenning van Mars.
Daar sal ook geleentheid wees om met bekende ruimtevaarders soos kommandeurs Scott Kelly en Chris Hadfield te gesels en om self toestande van gewigloosheid in Nasa se opleidingsentrum te ervaar.
Sedert die begin van hierdie spesiale kursus het meer as 700 jong mense uit 25 lande dit al voltooi.
Deelname geskied deur middel van spesiale uitnodiging en aansoekers word baie streng gekeur. Hulle moet ook op skool in wiskunde en wetenskap uitblink.
Almé se kusus begin op 17 Julie en duur tot 1 Augustus.
* A learner of Hugenote High School has been chosen among a handful of school children worldwide to attend the Nasa Space School.