Rugbyklub ná 40 jaar uitgeskop

Die spook van die Paarl Waterfront wandel weer . . . nadat die Paarl-rugbyklub, geleë by die Parys-sportterrein in die Paarl, onlangs die trekpas gekry het.


Die spook van die Paarl Waterfront wandel weer . . . nadat die Paarl-rugbyklub, geleë by die Parys-sportterrein in die Paarl, onlangs die trekpas gekry het.

In ’n brief van die Drakenstein-munisipaliteit aan die klub, wat reeds 141 oud is en een van die oudste en vernaamste rugbyklubs in die land is, word aan die klub gesê die huurooreenkoms tussen die klub en die munisipaliteit kom tot ’n einde en daarin word hulle beveel om teen 31 Desember vanjaar die klubhuis te ontruim. Die klub is reeds meer as 40 jaar hier gesetel.

Verder word gesê die sleutels van die klub-[gebou] moet teen 2 Januarie 2025 aan die munisipaliteit terugbesorg word. Indien die klub versuim om hieraan gehoor te gee, sal die munisipaliteit regstappe doen.

Die storm om die Parys-sportterrein woed nou al byna 20 jaar lank.

Die Waterfront-ontwikkeling by die Parys-sportterrein is in 2007 beplan, toe Paarl as ’n moontlike 2010-Wêreldbeker-basiskamp vir ’n internasionale sokkerspan voorgestel is.

Aanvanklike planne, wat toe baie vinnig deur die Drakenstein-munisipaliteit goedgekeur is, het voorsiening gemaak vir ’n sportsentrum, restaurante, ’n hotel, konferensiesentrum en gimnasium asook ’n kleinhandel-sektor veral gemik op die toeristemark.

Die munisipaliteit het toe al vir die verskeie sportklubs by die Parys-terrein aanduiding gegee dat hulle sal moet trek, met die mees geskikte terrein vir hul hervestiging die Boy Louw-velde.

Paarl is egter nooit as ’n basiskamp aangewys nie en die planne hiervoor het ’n stille dood gesterf.

Maar ’n paar jaar later het planne vir ontwikkeling hier herleef, met die munisipaliteit wat planne vir ’n winkelsentrum goedgekeur het.

Die Drakenstein-erfenisstigting (DHF) en ander betrokke sake-eienaars het toe hooggeregshofdokumente aan die Drakenstein-munisipaliteit, die Wes-Kaapse regering, die Waterfront se ontwikkelaars en ander betrokke partye bedien om hierdie ontwikkeling te stop.

Hulle het aangevoer dat so ’n ontwikkeling deur Erfenis Wes-Kaap goedgekeur moet word, wat nie gedoen is nie. Hulle het ook beswaar gemaak teen die verwydering van die titelaktebeperkings wat die munisipaliteit reeds goedgekeur het.

Die DHF het aangevoer dat die grondgebruik van Parys-sportterrein beperk is tot slegs gemeenskapsgebruik, gebaseer op ’n lang historiese verbintenis tussen die gemeenskap en die sportterrein.

Dus het hulle die ontwikkeling as onwettig beskou.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het ’n interdik toegestaan ten gunste van die applikante wat beswaar gemaak het teen sekere ongerymdhede met betrekking tot die ontwikkeling en die gepaardgaande tender.

In 2022 het die munisipaliteit bekendgemaak dat hy verskeie van sy openbare eiendomme in Drakenstein gaan verhuur of verkoop, onder andere die Parys-sportterrein asook ’n gedeelte van die Paarl-arboretum.

Dit maak deel uit van die munisipaliteit se planne om afstand te doen van sowat 60 munisipale erwe in Drakenstein.

Toe reeds is vrae hieroor gestel, wat onbeantwoord gebly het.

En nou, met die skokkende aanmaning wat op die Paarl-rugbyklub gedien is, is die soeklig weer op die moontlike ontwikkeling van die Parys-terrein geplaas.

By navraag aan die klubs wat ook hierdie terrein gebruik – die Paarl-krieketklub en die Paarl-muurbalklub – het hulle gesê hulle het nie soortgelyke briewe ontvang nie.

By navraag aan die Paarl-rugbyklub oor hierdie aangeleentheid, het Trevor Pretorius ontvangs van die brief bevestig en gesê verteenwoordigers van die klub sal binnekort met die munisipaliteit vergader om hierdie aangeleentheid te bespreek.

Seraj Johaar van die Drakenstein-munisipaliteit, die skrywer van die brief, het by navraag hieroor slegs aangevoer dat die Paarl-rugbyklub nie ’n geldige huurkontrak met die munisipaliteit het nie.

“Die huur en gebruik van die munisipale fasiliteit is apart van enige toekomstige ontwikkeling, indien enige,” sê Johaar.

“Die versoek aan die Paarl-rugbyklub om die gebou te ontruim, beïnvloed nie die muurbal- of die krieketklub nie.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.