Vier geliefde sportmanne in Wellingtonse rugbykringe het Saterdagoggend in ’n gru-ongeluk naby Voëlvleidam gesterf.Foto: Samuel Walters


Die Wellingtonse rugbygemeenskap is geruk deur die nuus van ’n gru-motorbotsing wat die lewe van ’n afrigter en drie rugbyspelers geëis het.

Albert Billings (47), ’n voorspeler-afrigter van die eerste rugbyspan van Newton-rugbyklub, was saam met sy twee seuns, Peter (26) en Albert jr. (19) – albei spelers van die rugbyklub – en hul neef Kéan Alexander (20), wie vir Wellington-rugbyklub gespeel het, van Gouda onderweg na Pelikaanpark op Wellington. Hulle was oppad na die derby teen Hillcrest United-rugbyklub, maar was omstreeks 11:00 in ’n motorbotsing met twee ander voertuie betrokke, waarvan een ’n vragmotor was.

Die presiese oorsaak van die ongeluk op die R46 tussen Gouda en Hermon word nog ondersoek, sê die polisie, maar ’n swaar miswolk het die oggend oor die gebied gehang wat sigbaarheid belemmer het.

Billings, Peter en Alexander is op die toneel dood, terwyl Albert jr. later in Tygerberg-hospitaal aan sy beserings beswyk het.

Albert jr. het in alle waarskynlikheid nog ’n groot toekoms vorentoe gehad as rugbyspeler.

Hy is reeds as 12-jarige na Gauteng gelok vanweë sy rugbytalent en het op skool Craven-week gespeel asook vir die Goue Leeus se junior span.

’n Steeds geskokte voorsitter van die Newton-rugbyklub, Kenny Williams, het aan Paarl Post gesê: “Dit is ’n baie moeilike tyd vir ons as ’n klub. Ons sukkel om dit te aanvaar.”

Hy het bygevoeg die klub kon nog nie sin van die tragiese gebeure maak nie.

“Ons is almal verpletter deur die nuus. Albert was a staatmaker-afrigter vir die spelers. Peter en Albert jr. was baie geliefd hier in die Newton-familie.”

Williams het gesê toe die nuus van die ongeluk breek, wou hy die derby teen Hillcrest United afstel.

“Maar ná heelwat oorweging het die klub se rugbyspelers, ondanks die tragiese gebeure, besluit om met hul rugbywedstryd teen Hillcrest United voort te gaan.

“Dit was hul manier om aan die Billings-familie eer te betoon.”

Albert se suster, Mary-Anne, en ma van Kéan, het gesê die gebeure is steeds baie onwerklik. Nie net het sy haar seun verloor nie, maar ook haar geliefde broer.

“Hulle was almal Vrydagaand hier by ons op Wellington. Saterdagoggend het hulle gou deurgery na Gouda waar Albert en sy seuns gewoon het om hul rugbyklere te gaan haal vir die dag se wedstryd.

“Verder weet ons nog glad nie wat gebeur het nie.”

Sy het gesê Kéan was in die proses om in te skryf om volgende jaar verder in finansiële bestuur aan Boland Kollege te studeer.

“Hy was die grapjas in die gesin en almal wat hom geken het, was baie lief vir hom.”

Albert sr. was ’n bekende sakeman met die Wellingtonse besigheid Billings-stoffeerders. Hy was voorheen ook by Roses United betrokke en by Gouda-rugbyklub.

Mary-Anne het gesê Peter en Albert jr. het nog altyd op sport- en akademie-vlak uitgeblink. Albert jr. het BSc sportwetenskap studeer by UWK en Peter was ’n finale jaar BCom student.

Huldeblyke vanaf Wellington-rugbyklub het ook heel week ingestroom vir Kéan.

Hy is deur die klub se bestuur en spanmaats beskryf as ’n staatmaker en ’n toonbeeld, op en vanaf die veld, vir jongmense.

Begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie bekend nie.. The rugby community of Wellington is in mourning after a tragic motor car accident which claimed a local rugby coach, his two sons and his nephew, all rugby players for Wellington clubs.

You need to be Logged In to leave a comment.