Die Boland Rugby-unie gaan weer ‘n belangrike bydrae tot jeugontwikkeling in sport lewer wanneer hy sy jaarlikse Get Into Rugby (GIR)-fees in die Boland-rugbystadion in Wellington op Saterdag 3 Mei aanbied.
Sowat 120 leerders van 10 skole sal dit bywoon, terwyl ‘n tweede fees, wat vir later in die jaar beplan word, al 25 skole wat aan die GIR-program in Boland deelneem, sal insluit.
Get Into Rugby is ‘n program wat deur Wêreldrugby geskep is en deur SA Rugby as deel van sy ontwikkelingsprogram in samewerking met sy lidunie, Boland Rugby, geïmplementeer word.
Die program het ten doel om die spel wêreldwyd te laat groei deur kinders in ‘n veilige en inklusiewe omgewing aan rugby bekend te stel. Die Boland-rugby-unie is vir die afgelope twee jaar ‘n implementeerder van die inisiatief, met ‘n uitnemende rekord van gemeenskapsbetrokkenheid.
“Hierdie fees gaan oor meer as net rugby – dit gaan daaroor om kinders van alle agtergronde, veral dié uit onder
bevoorregte gemeenskappe, ‘n kans te gee om te behoort, te groei en te droom,” sê David Coert, bestuurder van Get Into Rugby by Boland Rugby. “Ons nooi die media en die gemeenskap om op die dag by ons aan te sluit om te sien hoe rugby gebruik word om lewens te verander.”
Die dag se program begin om 08:30 met skoolregistrasies en ‘n verwelkoming met tee en koffie. ‘n Hoogtepunt sal die sessie tussen leerders en die Sanlam-Boland-Kavaliers en vrouespelers wees, wat die kinders interaksie met hul sporthelde bied. Van 10:00 tot 13:10 verskuif die aksie na die veld waar spanne in ‘n 7’s-formaat sal meeding.