Die 85-jarige Adam Petersen is al meer as ses dekades toegewyd aan plaaslike rugby hier in die Paarl. Nou sal Oom Ampie, soos wat almal hom ken, binnekort vereer word as ’n lewende legende met ’n rugbybeker wat na hom genoem word.
Aslam Abrahams, wat ook betrokke is by die plaaslike rugby, sê vandat hy kan onthou is oom Ampie besig by die plaaslike Blues Rugbyklub en by rugby hier in die Paarl- streek. Op 8 Oktober pak Blues en Peoples mekaar aan in hul jaarlikse derby op Faure- stadion. Abrahams, wat die beker vir die derby borg, sê dit sou eers die Bibis Softdrinks Derbybeker gewees het, maar toe besluit hulle anders.
“Oom Ampie is so ’n gesiene man in rugby in die Paarl en ons vereer altyd mense as hulle dood is. Toe voel ek net om hom te vereer terwyl hy nog lewe en sodat hy kan sien wat hy vir ons gedoen het. Ek bedoel, ek was omtrent sewe jaar oud toe ek rugby gespeel het en Oom Ampie was al daar vir ons as die jongmense.
“Toe hy vir my kom vra of ek nie die beker wil borg as die Bibis-beker nie, toe sê ek nee, ons wil die Oom Ampie-beker borg. Môre maak hy sy oë toe, en dan kan die legacy van Oom Ampie in die Paarl voortleef. Ek het vir Vineyards en vir Gardens gespeel toe ek jonger was, maar ons het altyd respek gehad vir Oom Ampie, want hy was altyd daar.
“Van my kant af wil ek hom vereer en dankie sê vir alles wat hy vir die jongmense in Paarl doen in rugby. Ons wil vir hom dankie sê voor hy eendag sy oë toemaak.”
Vir oom Ampie is dit ’n groot eer om te kan sien dat hy so ’n groot bydrae in die rugbywêreld gelewer het en ook ander jongmanne se lewe oor die jare. Hy vertel dat hy 16 jaar oud was toe hy begin rugby speel het vir die Blues-rugbyklub. Toe oom Ampie ophou rugby speel het, was dit nie die einde van sy betrokkenheid by Blues nie. Hy is vandag die president van die klub.
Oom Ampie lag lekker uit sy maag toe hy gevra word of hy nog steeds vir die span uitdraf. Wanneer hy praat oor die beker wat na hom genoem word, sê oom Ampie hy is baie opgewonde en voel baie geëerd.
“’n Mens kan nie beskryf hoe jy voel as iemand vir jou wil vereer terwyl jy nog lewe nie. Die dinge gebeur altyd wanneer jy dood is. En natuurlik voel ek baie trots.
“So lank as wat ek lewe sal dit by my bly. En aan die mense wat dit skenk – ek waardeer dit baie. Ek is baie verskuldig aan hulle.”
In sy leeftyd het Oom Ampie by ’n kombersfabriek en ook by British Nylon Spinners in Bellville gewerk. Wanneer hy nie by die werk was of ander verantwoordelikhede gehad het nie, was Oom Ampie altyd langs of op die rugbyveld.
Hy vertel sy vier seuns en twee kleinseuns het ook later jare vir Blues uitgedraf, maar hulle het ook al vandag as rugbyspelers uitgetree.
Oom Ampie sê as jongmense wat lief is vir rugby betrokke bly by dié sport, kan dit hulle uit die moeilikheid hou en ’n goeie toekoms gee.
“Wat ek vir hulle kan sê, is dit gaan nie net oor rugby nie, dit gaan daaroor om aan sport deel te neem. Want as jy aan sport deelneem en jy vat dit ernstig op, dan vergeet jy van die onheil en dinge wat buite gebeur. Jy is net tussen jou sportmense.
“Konsentreer op jou sport wat jy beoefen en doen dit goed en los die ander goed soos die dwelms en drank.”
- The 85-year-old Adam Petersen has dedicated himself to local rugby in Paarl for more than six decades. Now Oom Ampie, as everyone knows him, will soon be honoured as a living legend with a rugby cup named after him.





