Die Happy Kids-akademie beywer hom vir die welstand en ontwikkeling van jong Bolandse rugbyspelers.Foto: Quade Matjan


Wellingtonners en die voormalige rugbyspelers Milton James en Clifford Jafta het eendag om ’n braaivuur gesit en besluit hulle wil hul seuns se rugbyvaardighede opskerp, min wetend dat hierdie idee bykans 80 seuns se lewe gaan verander. Michael Abrahams, ook ’n voormalige rugbyspeler, het besluit om by hierdie twee pappas aan te sluit en hulle het die deur vir die hele Wellington oopgemaak, met Newton ingesluit.

So is Happy Kids gebore.

Die rugbymanne se vrouens het ook by hierdie inisiatief betrokke geraak en gou agtergekom baie van die seuns het nie die nodige ondersteuning by die huis nie. Dit is waar Jenita James, Michelle Jafta en Liezel Abrahams die span bekwame afrigters bystaan deur te sorg dat die nodige reëlings getref word rondom vervoer en administrasie – en dat die worsrolletjies op ’n Saterdag na moederliefde proe.

“Alles wat ons doen, doen ons gratis en dit laat my baie beter voel as die kinders ná oefening na hul onderskeie wonings gaan en ek weet dat hulle ’n maaltyd gekry het en dat hulle ’n paar lewenslesse geleer is,” sê Jenita James.

Spar Bothasig is een van ons hoofborge wat die kos betref. Die vrouens sorg in baie gevalle self vir die sop en help ook met skoolwerk.

Baie kinders kom uit agtergronde waar daar nie altyd die nodige ondersteuning is nie. Dit is presies waarvoor hierdie groep rugbyliefhebbers hulle beywer, om ondersteuning te bied, ook deur middel van klere- en skoeninsamelings vir die jong rugbyspelers.

Milton James, wat in sy dae slot gespeel het, voer aan die rede vir die akademie is om die kinders die nodige vaardighede te leer wat jy normaalweg by ’n betaalde rugbyakademie sal kry.

“Ons wil ook meer kinders van Wellington in die Boland se skolespanne hê,” sê hy.

“Ons naam Happy Kids beteken dat die kinders dit moet geniet terwyl hulle oefen.”

Clifford noem dat hulle gereeld gebruik maak van plaaslike rugbyspelers. Een wat uitstaan, is André Manuel, die haastige vleuel van Boland Kavaliers. Manuel het ingewillig om elke week te kom help, mits hy nie unieverpligtinge het nie. Nog ’n afrigter wat by Happy Kids aangesluit het, is Delwayne Barron. Bekendes wat ook reeds kom hand bysit het, is onder andere Jacques Bothma, Dylan Maart, Thurlow Mars, Jacquin Jansen, Ryan Percence, Tyrique Hartnick en Elgar Watts. Die doel is om spesialisafrigting aan elke kind te gee, wat sy rugby gaan verbeter en ook van hom ’n beter mens sal maak. Hierdie is ’n gemeenskapsprojek en elke helpende hand kan ’n kind se lewe verander.

Carlo Adams en Brandon Nel bied ook gratis vervoer na en van oefeninge aan.

Newton Villigers se bestuur het dié klub se veld Saterdagoggende aan Happy Kids beskikbaar gestel.

. Enige donasies in die vorm van skool- of sportklere en -skoene is baie welkom. Kontak Milton James by 079 739 8795 om ’n donasie te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.