Die naam Frankie Horne (33) is op die 7’s-rugbyveld oral bekend, en die Wellingtonse staatmaker het ná ’n dekade as deel van die Blitsbokke se groep finaal sy stewels opgehang.

Horne is vir jare lank reeds geprys vir sy leierskap op en van die veld af, en hy spog met die Suid-Afrikaanse rekord vir die meeste agtereenvolgende toernooie (68) op sy kerfstok. In sy roemryke loopbaan spog hy met ’n goue medalje by die Statebondspele, ’n Wêreldreekstitel en ’n Wêreldspele-bronsmedalje. Hy het die 2015-’16-seisoen misgeloop weens ’n enkelbesering en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU) het ook nie sy kontrak onlangs hernu nie.

Na tien jaar by die sewes-span, vertel Horne hoe sy loopbaan op die veld begin het.

“As ek reg onthou was my vroegste herinnering toe ek in Sub-A (gr. 1) vir Klein Boishaai gespeel het. Van daar het die rugby-gogga seker gebyt.”

Tydens sy jare by Hugenote Hoërskool, het Horne opgekyk na sy afrigters en baie by hulle geleer.

“In my matriekjaar (2001) was ons afrigter Johan van der Merwe. Ek het as haker vir die eerste span gespeel en die jaar baie geniet. Verder was meneer Cobus de Jongh ook iemand wat ek as mentor beskou het. Hy het ons altyd gedril met die fiksheid.”

Wie was die spelers waarna hy tydens sy loopbaan die meeste opgekyk het?

“Ek het meer gefokus op die spelers rondom my wat eienskappe het wat ek graag sou wou hê. Name soos BJ Forbes en Cecil Afrika kom na vore. Cecil vir sy spelskep-vermoë en BJ vir sy leierskap as kaptein van Nieu-Seeland.”

As ’n speler so lank betrokke is by ’n span, dan raak dit moeilik om enkele hoogtepunte uit te lig.

“Die 2008/9 seisoen was spesiaal toe ons Suid-Afrika se eerste Wêreldreekstitel verower het. Die Statebondspele se goue medalje staan beslis ook uit as een van my hoogtepunte.”

Die Sewes-spelers kry gedurende ’n seisoen die kans om die hele wêreld te sien.

“Ons was baie geseënd om soveel te kon toer. My gunsteling-stede om te speel was Adelaide in Australië omdat die veld so vinnig was en natuurlik Las Vegas. Vegas was vir ons ’n goeie jagveld en ons het al ’n paar toernooie daar beklink.”

Indien hy wel tyd kry, geniet Horne die buitelewe.

“Ek woon tans in Muizenberg en as ek ooit ’n af-tydjie gekry het, het ek en Werner Kok gewoonlik gaan visvang. Ek is ook mal oor jag of om na die skietbaan te gaan.”

Wat hou die lewe vir hom in na rugby?

“Ek hoop om betrokke te raak by afrigting binnekort. Ek begin wel in 2017 ’n klein laerskool-rugbyakademie in die suidelike voorstede ook. Verder kan ek moontlik Sewes-klinieke in Amerika gaan aanbied asook die Duitse 7’s-span help om te kwalifiseer vir die Wêreldreeks.”

As jy ook soveel sukses in jou sportloopbaan wil behaal, volg Horne se raad.

“Ek glo vas daaraan om hard te werk. Die samelewing se quick fix benadering werk nie en as jy iets wil bereik moet jy vasbyt. Ek weet dat ek en van my mede-spelers nie noodwendig die meeste talent gehad het nie, maar ons was almal bereid om ure lank te werk om ons drome te bereik.”

  • *

You need to be Logged In to leave a comment.