Roxi Keyser by haar ouma se klavier waarop sy leer speel en komponeer het.Foto: Engela Duvenage


Van ballerina tot klavierspeler en komponis – dis die ontluikende verhaal van Roxi Keiser, ’n gr. 11-leerder aan die Hugenote Hoërskool in Wellington. Roxi se eerste versameling van agt eie komposisies vir klavier is verlede Vrydagaand – op haar 17de verjaarsdag – in die Bôrdienghuisteater in Wellington bekend gestel.

Haar album is getiteld Floats with ease.

Die akteur Charles Tertiens was die seremoniemeester by die bekendstelling cum verjaarsdagpartytjie, waartydens Roxi natuurlik ook haar werke opgevoer het.

Sy is gewis ’n baie kreatiewe, kunssinnige meisie. Trofeë op die klavier in haar ouerhuis in Wellington herinner aan die jare waarin sy by een ballet-eisteddfod en -eksamen ná die ander uitgeblink het.

Sy moes egter enkele jare gelede haar balletskoene weens ’n kniebesering in ’n netbalwedstryd wegpak.

Roxi het tydens die Covid-19-inperkings nie soos baie ander tieners net soveel moontlik tyd in die bed, voor die televisie of met ’n skerm in die hand deurgebring nie.

Sy’t eerder agter haar ouma Sophie se klavier ingeskuif. Dit is ’n erfstuk van wyle oupa Nicolas Keyser se kant, en het kort tevore ’n tydelike staanplek in die Keysers se voorkamer in Parakietstraat gekry.

So het Roxi weldra op eie stoom en danksy YouTube-video’s leer klavier speel én musiek komponeer.

“Ek kon in daardie stadium nie veel meer as net ‘chopsticks’ speel nie, nadat my nefie Alex dit vir my geleer het,” vertel Roxy.

Haar pa, Zanephyn, het gedurende covid-tye van die huis af gewerk.

Hy vertel hoedat hy weldra begin besef het dat hy geensins die wysies ken wat sy speel nie, en so agtergekom het sy skryf haar eie musiek.

Zanephyn en Rhoda, Roxie se ma, het haar aangemoedig om dit af te rond en opnames te maak.

Dit is in Junie voltooi en deur Desmond Mackay van DesMack’s Recording Studio and Musical Productions in Newton opgeneem.

Roxi beskryf haar musiekstyl as contemporary classic. Komponiste soos die Duitser Hans Zimmer, wat bekend is vir sy musiek vir die filmbedryf, tel onder haar inspirasies.

Floats with Ease bevat agt komposisies. Roxi, wat lid is van Hoërskool Hugenote se koor, sing ook op die titelsnit.

Sy sê sy het al ’n geldjie uit een van haar skeppings gemaak nadat ’n familielid, wat in die Amerikaanse filmbedryf werk, dit in ’n dokumentêre program oor die lewe van studente in die stad Philadelphia gebruik het.. Soek Floats with Ease om Roxi se musiek op Youtube te luister, of gaan na https://www.youtube.com/watch?

You need to be Logged In to leave a comment.