Foto ter illustrasie.Foto: Pexels


Bergrivier Sekondêre Skool in Wellington het weer eens onder misdaad deurgeloop nadat twee afsonderlike inbrake plaasgevind het.

Volgens kol. Johan Barkhuizen, ’n woordvoerder van die Wellington-polisie, het die eerste voorval die afgelope Sondag (19 November) plaasgevind. Elektroniese toestelle is gesteel.

Die presiese tyd van die voorval is onbekend, maar dit het in die vroeë oggendure plaasgevind, met twee rekenaars ter waarde van R20 000 wat gesteel is.

Die tweede inbraak het Dinsdagoggend plaasgevind, met hoofsaaklik kos vir die skool se voedingskema wat gesteel is.

Barkhuizen het die besonderhede van die rooftogte bevestig. ’n Tyd kon nie vasgestel word nie, maar hy sê ’n klagte is wel aangemeld, maar niemand is tot op hede in hegtenis geneem nie.

Volgens Anthony Cavernelis, Bergrivier Sekondêr se skoolhoof, sit die skool met die hande in die hare nadat hierdie voorvalle onderskeidelik die sesde en sewende sedert Oktober vanjaar is.

Hy verduidelik die skool het wel ’n alarmstelsel en diefwering, maar die skoolperseel is groot en die omheining is nie in ’n goeie toestand nie.

Dit vergemaklik inbrake.

“Toegang tot die skool is maklik [om te kry], en al is daar een of twee veiligheidswagte, kan hulle nie altyd oral wees nie omdat die terrein so groot is,” sê hy.

Volgens Cavernelis word vermoed dat die boewe óf oud-leerders van die skool is en wat tans sonder ’n heenkome is, óf skoolgaande leerders van Bergrivier Sekondêr of ander skole wat steel om hulself en hul families finansieel te ondersteun.

Cavernelis het aan die Paarl Post gesê hy is in gesprek met die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) oor oplossings vir die inbrake, maar die partye moet nog tot ’n ooreenkoms kom.

Volgens Millicent Merton, ’n woordvoerder van die WKOD, is die departement bewus van die inbrake en die departement staan die skool by bykomende veiligheids­maatreëls.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article