Die afdraai na die Groenfonteinpad van die R101 oftewel die Ou Paarlpad. Foto: Jana Scheepers


Nóg ’n rooftog op ’n plaas het die Boland die naweek geruk toe drie rowers ’n huisgesin in Klapmuts vasgebind en beroof het.

Volgens sers. Madilyn Dombas, woordvoerder van die Klapmuts-polisie, het die voorval die afgelope Saterdag (12 Oktober) net voor middernag op die Groenfonteinpad plaasgevind.

“Een van die slagoffers het wakker geword met drie onbekende mans in sy kamer. Die mans was baie aggressief in die manier waarop hulle gepraat het, en het geld, selfone, skootrekenaars en vuurwapens geëis,” volgens Dombas.

“Die slagoffer is toe saam met sy meisie vasgebind terwyl die verdagtes na nog waardevolle artikels gesoek het.”

Die drie verdagtes is weg met twee skootrekenaars en selfone waarna die slagoffers verder gedreig is en nog twee skootrekenaars uitgewys is.

“Die klaagster het ook opgemerk dat haar motorsleutels weg is,” het Dombas gesê.

Die vrou het in die voorval geskreeu, waarna die verdagtes te voet verdwyn het.

Erica de Villiers, ’n woordvoerder vir die Klapmuts-plaaswag, het aan Paarl Post bevestig dat die drie rowers die huurhuis met klapmusse en pangas binnegegaan het.

Volgens haar het die rowers geen ander wapens buiten pangas gehad nie.

Foto ter illustrasie. Foto: Jana Scheepers

De Villiers het ook gesê dit lyk asof die rowers te voet na die R312 gevlug het omdat geen motor op die perseel of deur die plaaswag of die polisie gewaar is nie.

Volgens ’n Klapmuts-inwoner met inligting oor die aanval is die twee inwoners met hul eie beddegoed vasgebind nadat die rowers dit in repe geskeur het.

Die inwoner het gesê die huurders het geen fisieke beserings opgedoen nie – ’n verklaring wat ook deur die Klapmuts-plaaswag bevestig is.

Dit lyk asof die modus operandi van dié plaasaanval soortgelyk is aan die doen en late van die sogenaamde klapmus­bende wat vermoedelik reeds vroeër vanjaar twee plase in Wellington geteiken het.

Volgens De Villiers is dié inbraak die eerste in die gebied sedert 2018 toe ’n vrou voor haar kinders op die plaas Glen Gall, ook op die Groenfonteinpad, aangeval is en vir ’n kopbesering behandel moes word.

In hierdie voorval was vier rowers wat met ’n vuurwapen verdwyn het, betrokke.

You need to be Logged In to leave a comment.