Die stoor van Drakenstein-munisipaliteit waar rowers Vrydag (5 Mei) toegeslaan het.Foto: Edgar J Petersen


Vier gewapende rowers het Vrydagmiddag (5 Mei) by ’n stoor van die Drakenstein-munisipaliteit in Distillerystraat in die Paarl toegeslaan.

Drie van die rowers was in besit van vuurwapens terwyl die vierde een ’n mes gehad het, sê kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder van die Paarl-polisie. Sy sê die mans het glo op toegang tot ’n kluis aangedring.

Volgens ’n munisipale werker het die voorval omstreeks 16:30 afgespeel en die rowers was op soek na geld.

“Hulle het glo geld gesoek. Hulle het gekom om te roof, maar by waterwerke word glad nie geld gehou nie.”

Toe die rowers nie geld op die perseel kon kry nie, het hulle een van die munisipale werkers se voertuig geneem en van die toneel af weggejaag.

“Een van die munisipale werkers se private bakkie is gekaap. Hulle het hom beroof en die ouens is met die bakkie weg. Dit is ’n wit Chevrolet Utility- bakkie met ’n kappie op,” sê die anonieme bron.

Du Plessis het hierdie inligting gestaaf. Sy verduidelik: “Die verdagtes het die klaer (’n munisipale werker) vasgebind en daarna met skootrekenaars, geld en die klaer se voertuig gevlug. Die voertuig is later die dag in die Mbekweni-omgewing verlate gevind.”

Louis Pienaar, die Drakenstein-munisipaliteit se waarnemende uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, het ook die voorval bevestig.

“ ’n Munisipale amptenaar het ligte beserings opgedoen en is van sy persoonlike voertuig (’n bakkie) en sy selfoon beroof. Die bakkie is intussen gevind. Geen munisipale eiendom is gesteel of beskadig nie. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ondersoek die voorval.”

  • Enigiemand met inligting wat die polisie kan help in hul ondersoek om die verdagtes in hegtenis te neem, word gevra om die Paarl-polisie by 082 469 1431 of 021 807 4015 te kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.