Juandre Joseph van Robertson Town ontduik sy Roses-teenstanders.Foto: Charl Williams

Credit: SYSTEM

Roses United moes Saterdag (28 Oktober) in ’n Sanlam-Boland-Top-12-wedstryd in Boland-stadion die knie met 30-32 teen Robertson Town buig. Dit was boonop teen ’n Robertson-span wat met vier geelkaarte deur die skeidsregter, Gabriel Marsh, gestraf is.

Robertson se swaar voorspelers het in die vaste fasette van die spel oorheers en die Roos op die verdediging beproef.

Ryan Julies, die losskakel van Roses, het eerste punte in die vorm van ’n strafskop aangeteken, maar swak verdediging en verbroude kanse het die span van Wellington duur te staan gekom.

Colin Willemse van Robertson het in die 15de minuut van die eerste helfte ’n strafskop oorgeklits om die telling gelyk te maak. Jayden Fransman het Roses laat voorloop met ’n pragdrie, wat hy in die hoekie gaan druk het.

Met Lance Korabie wat vir 10 minute koelkas toe gestuur is, het Robertson se Wendell Williams hul ondersteuners rede gegee om fees te vier met ’n verdoelde drie om sy span te laat voorloop. Jeno April het daarna ’n goeie lyn gehardloop om vir Robertson te gaan afrond.

Met rustyd was die tuisspan, Roses United, met 8-17 agter. Jade Demas het in die negende minuut van die tweede helfte reg onder die pale gaan druk, Ryan Julies het verdoel en Roses het weer die voortou geneem. Jovelian de Koker het onmiddellik daarna Roses se verdediging in die middelveld in die lug laat gryp deur sake met ’n verdoelde drie af te rond.

Gurshwin Africa het in die 60ste minuut van die wedstryd vir Robertson afgerond met ’n bonuspunt-drie. Met dertien minute speeltyd in die wedstryd oor het Elshaun Davids in die hoek oorgeduik vir die span van Wellington se derde drie. Robertson het weer geantwoord met ’n strafskop deur Gurshwin Africa.

John Jantjies (6; flank) van Roses, wat ’n skitterende wedstryd beleef het, moes ongelukkig die veld in die 72ste minuut met ’n gebreekte enkel verlaat. Ryan Julies het Roses se vierde drie aangeteken met vier minute speeltyd oor. Robertson Town het egter vasgeklou aan sy voorsprong en het met vyf punte teruggekeer na Robertson.

’n Goeie terugveg-poging deur die Roses-span van die afrigter Michael Abrahams is met twee bonuspunte beloon.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article