Roses se blitsvinnige Xavier Mitchell omseil een van sy teenstaanders. Hy is na afloop van die wedstryd as Speler van die Wedstryd aangewys.Foto: Charl Williams


Roses United moes Saterdag (21 Oktober) vir ’n Sanlam-Boland-Top-12-wedstryd meer as 260 km aflê om ’n oorwinning van 32-22 oor die Van Rhynsdorp Eagles te beklink.

Die Sanlam-Boland-Top-12-klubrugbykompetisie is uniek en bied spelers die geleentheid om vir hulself ’n professionele kontrak by die unie te bekom.

Die span van Wellington was van die begin af in beheer en het vyf drieë gedruk.

Die vleuel Heinrich Isaacs het ’n driekuns in drieë behaal en gewys hoe gevaarlik hy kan wees as hy genoeg ruimte op die veld gegun word.

Roses het goed gekombineer as ’n span, maar het by tye met hoë risiko rugby gespeel.

Die Van Rhynsdorp Eagles het goeie rekenskap van homself gegee, maar die manne van Roses se ervaring op hierdie vlak was net een te veel vir die tuisspan.

Xavier Mitchell, die buitesenter van die Roses-span, het telkemale die verdediging van Eagles se middelveld oopgevlek en is wel verdiend as Speler van die Wedstryd gekroon.

Die hoofafrigter, Michael Abrahams, het ná die wedstryd aan Paarl Post gesê: “Die tye wat ons by ons planne gehou het, het ons na ’n afgeronde span gelyk en die punte het maklik gekom, maar daar is tye wat die spel los was en ons met elke bal wou hardloop.”

Abrahams is ook van mening dat hy nie spelers wil uitsonder nie, maar die naam van Jade Demas het by hom opgekom toe Paarl Post met hom in gesprek was.

Demas, die jong slot van Roses, wat ook vanjaar vir die Boland-o.21-span gekies is en ’n blink toekoms voor hom het, het hard gewerk in die vaste fasette van die spel.

Demas het gereeld die bal gedra om heelwat veld te wen, verduidelik Abrahams.

”Ons sal wel verder moet werk aan ons verdediging, maar is trots op die span se karakter en sien uit na Saterdag 28 Oktober se wedstryd teen Robertson RVK in Wellington.”


. Roses United-puntemakers: Drieë:
Kelvin Fikster, Ryan Persence, Heinrich Isaacs (3), Doelskoppe: Ryan Julies, (2), Strafdoele: Ryan Julies.. Uitslae Ronde 1:

Safcol United 21-15 Wesbank

Darling 39-40 Hawston

Mamre 23-45 Young Hamiltons

Robertson Town 25-24 Saldanhabaai

Bella Vista 29-12 Delicious NW

You need to be Logged In to leave a comment.