Met die telling wat die hele tyd wipplank gery het, het Roses United Saterdag (5 November) voor meer as 2 000 toeskouers op Pelikaanpark in Wellington in ’n skitterende Boland-Top-12-wedstryd uiteindelik ná 80 spannende minute 25-23 geseëvier.
’n Mislukte strafdoel met speeltyd reeds verstreke deur die Wesbank-kaptein, Gavin Skippers, het die span van Malmesbury met slegs een punt stert tussen die bene huis toe gestuur.
Die Swartland-kampioen het reeds ná vier minute in die eerste helfte van die wedstryd die voortou 6-0 geneem ná twee strafdoele deur Skippers.
Die span van Wellington het geantwoord met ’n skepdoel in die dertiende minuut deur die losskakel, Ryan Julies. In die 28ste minuut het Xavier Mitchell afgerond met ’n drie ná goeie spel deur die voor- en agterspelers.
Met nege minute speeltyd oor in die eerste helfte het Ryan Julies nog drie punte bygevoeg. Net voor rustyd het Wesbank se plaasvervangervleuel, Matthew van der Westhuizen, ’n drie gedruk ná ’n uitstekende lopie deur die nr. 8, Tyreec Liedeman. Die rustydtelling was 11-11.
Ná die breuk het dit die manne van Malmesbury net effens langer as een minuut geneem om sy tweede drie aan te teken nadat Liedeman sy teenstanders met spoed geklop het.
’n Goeie rolmaalbeweging deur die voorspelers van Roses United het tot sy skrumskakel, Percival Williams, se drie gelei, wat deur Ryan Julies verdoel is.
Liedeman het weer toegeslaan en sy tweede drie gedruk, wat deur Skippers verdoel is nadat die slot Charles Gerber deur Roses se verdedeging gebars het.
Liedeman is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.
Roses se plaasvervangerhaker, El-Shaun Davids, was ook ’n doring in die vlees vir die span van Wesbank nadat hy sy span se derde drie aangeteken het. Vir die manne van Wellington lê harde werk egter voor as hulle nog vir die Top-12-uitspele wil kwalifiseer.
John Jantjies, Marc Andries, Percival Williams, Hilroy Baadjies en Lee-Heino Appolis kan tevrede voel met hul spel. Jantjies sal aan sy ingooiwerk by die lynstane moet werk.
Wesbank se Liedeman, Nathan Solomons, Gerber, Dasthon Wellman en Van der Westhuizen was gevaarlik telkens wanneer hulle op die aanval was.. Roses reis Saterdag (12 November) na Citrusdal, terwyl Wesbank die gasheer vir die Hawston-rugbyklub is.
Puntemakers:
Roses: (25): Drieë: Xavier Mitchell, Percival Williams, El-Shaun Davids. Doelskoppe: Ryan Julies (2). Skepdoel: Ryan Julies. Strafdoel: Ryan Julies.
Wesbank: (23): Drieë: Matthew van der Westhuizen, Tyreec Liedeman (2). Doelskoppe: Gavin Skippers. Strafdoel: Gavin Skippers (2).


