Ná sy eerste jaar van rugby by ‘n Bolandse klub het Roses United se heelagter, Xavier-Lee Solomons (23), vandeesweek gesê hy het geen rede om in dié stadium enige skuiwe te maak nie en hy sien uit na die toekomstige geleenthede en groei wat dié Wellingtonse klub hom bied.
Solomons was vanjaar sonder twyfel een van Roses se uitstaanspelers en het hom nie eens laat onderkry deur ‘n besering wat hom drie wedstryde laat misloop het nie.
Solomons, ‘n boorling van die Paarl, het sy klubrugbyloopbaan by die Paarlse Albions-rugbyklub begin, waar hy tot einde verlede jaar gespeel het.
Albions en alle ander klubs in die Paarl val onder die Westelike- Provinsie-rugbyunie.
“Ek het besluit om die skuif na Roses te maak om aan myself te werk en op my ontwikkeling te fokus.
“Roses het my hart kom steel hierdie jaar. Ek het regtig lief kom raak vir hierdie klub en die kultuur wat hulle hier kweek.
“Dis ‘n klub waar daar baie ruimte is vir ontwikkeling en persoonlike groei, dus sien ek uit na die seisoen wat voorlê,” sê hy.
Op die vraag oor hoe rugby by die Boland-rugbyunie (BRU) se klubs anders as by WP-klubs is, het Solomons gesê: “WP-rugby is meer fisiek.
“Dit is wat elke speler sal sê. My ervaring is dat daar by Boland meer geleenthede is. Dit is ‘n platform vir jong spelers uit ons gemeenskappe om te groei.”
Die afgelope naweek se Sanlam-Boland-Top-12-eindstryd teen die span van Saldanha was volgens Solomons vir hom een van die grootste uitdagings van die jaar.
Hy het twee kritieke strafskoppe vir Roses gemis en Paarl Post wou by hom weet hoe ‘n speler onder so baie druk positief bly.
“Ons het ‘n kans gehad om die game te wen. Dinge het nie goed verloop vir ons nie – veral nie vir my nie.
“Ek is net dankbaar vir my vriende en my spanmaats wat my gemotiveer het. So, ja, ek het alles probeer, maar ongelukkig kan daar net een wenspan wees,” het hy Saterdag (22 November) ná die eindstryd gesê.
Hy hou vol dat Roses aanstaande jaar sterker sal terugkeer en sê hy sien veral uit na die span se deelname aan die Gold Cup in 2026.
Solomons sê hoewel hy sy deelname aan klubrugby tot dusver geniet en elke geleentheid benut, is sy droom om eendag ‘n professionele rugbykontrak los te speel.
Ondanks Roses se nederlaag
teen Saldanha in die Top-12-eindstryd het die klub ‘n baie suksesvolle jaar gehad.
Hul enigste ander nederlaag was in ‘n Top-12-tuiswedstryd teen Botrivier op 1 November.
Roses is onoorwone in die Witsentraal-ligakompetisie.


