Saterdag was weer ’n klipharde derbystryd tussen die bure Roses en Newtons.


Roses United het Saterdag (17 Augustus) op ’n koue en nat Pelikaanpark in Wellington ’n naelbyt-oorwinning van 21-20 oor sy bure Newtons RVK behaal. Dié Witsentraal­streek-derbystryd is soos verwag deur klipharde spel gekenmerk.

Ná ’n wankelrige begin van sy veldtog is Roses besig om daadwerklike opgang in vanjaar se Grootuitdaagreeks te maak. Roses het vroeg in die wedstryd die voortou geneem toe Sonwabile Young, vleuel van die Roos-span, met sy vaart gaan afrond het met ’n drie, verdoel deur Damian Engledoe.

Die losskakel Engledoe het later ’n strafskop oorgeklits, wat die Roos-span met 10-0 laat voorloop het. Roses United moes in die eerste helfte van die wedstryd vir 10 minute met 13 man op die veld klaarkom nadat Ryan Persence en Chad Adams met geelkaarte gestraf is.

Roses het egter goeie karakter gewys toe El Shaun Davids ná ’n goeie rolmaal-beweging oorgeduik het vir ’n drie.

Die span van Newtons het verskeie aanvalle van stapel gestuur, maar rotsvaste verdediging deur Roses en selfsugtigheid deur die Newton-span het verhoed dat hul span die doellyn oorsteek.

Net voor rustyd het die kaptein van die Bombelas, Colin April, hul ondersteuners hoop gegee met ’n drie in die hoek. Die Roos-span het rustyd met 15-5 voorgeloop.

Die Bombelas het in die tweede helfte van die wedstryd teruggeveg, maar eers toe Ryan sy tweede geelkaart kry, wat later na ’n rooikaart opgegradeer is, het Newtons se Keaton Booysen en Brandon Adonis elk ’n drie vir hul span gedruk. Newtons het later die voortou met 20-15 geneem nadat Emilio Adonis suksesvol was met ’n strafskop.

Die Roses United-span het die voet op die pedaal effens gelig, maar die skopskoen van Damian Engledoe het die naelbytsege vir sy span beklink. Roses lê nou saam met Newtons op 74 punte op die puntetabel, met Newtons wat een wedstryd minder gespeel het.

Roses speel Saterdag (24 Augustus) in ’n wegwedstryd teen Ceres RVK, terwyl Newtons op Bombelapark teen Young Blues te staan kom.

Roses United -untemakers:

Drieë: Sonwabile Young, El Shaun Davids.

Doelskoppe: Damian Engledoe (1), Strafdoel: Damian Engledoe (3).

Newtons: Drieë: Colin April, Keaton Booysen, Brandon Adonis. Doelskoppe: Ryan Jordaan. Strafdoele: Emilio Adonis.

You need to be Logged In to leave a comment.