Roses United het die afgelope Saterdag (4 Augustus) in ’n dramatiese en aksiebelaaide rugbywedstryd op Pelikaanpark in Wellington ’n naelbytsege van 32-29 oor Bella Vista in die Witsentraal Grootuitdaagbeker-wedstryd behaal.
Die wedstryd het groot opwinding en drama verskaf, met Roses wat ’n indrukwekkende eerste helfte opgelewer het.
Die span van Ceres het die eerste punte aangeteken ná ’n goeie agterlynbeweging, maar Roses het vinnig teruggeslaan met ’n drie deur Denvor Cloete, verdoel deur Damian Engledoe.
Roses het toe ratte verwissel, wat aan Cloete sy tweede drie besorg het. ’n Geelkaart aan Bella Vista se heelagter het Roses die geleentheid gegee om nog twee drieë te druk. ’n Fout deur Bella Vista het Roses in staat gestel om sy vyfde drie te druk, wat hom ’n rustydvoorsprong van 29-17 gegee het.
Roses se Keagan September het ’n strafskop vroeg in die tweede helfte oorgeskop – die enigste punte vir sy span in dié helfte. Talle veranderinge in die Roses-span het hul momentum gebreek en hulle sal daaraan moet werk om vir 80 minute deurlopend mededingend te wees.
Bella Vista het ’n begeesterde vertoning ná die omdraaislag gelewer en naby aan ’n oorwinning gekom. Nadat Ryan Persence vir tien minute koelkas toe gestuur is, het Bella twee drieë aangeteken. Denvor Cloete en Percival Williams het ook geelkaarte ontvang, wat Roses met 13 spelers op die veld gelaat het. Bella het ’n geleentheid gehad om die wedstryd gelykop te laat eindig, maar ’n hardnekkige verdediging deur Roses het verhoed dat Bella Vista met ’n oorwinning na Ceres terugkeer.
Drie spanne van Wellington gee tans die pas aan in die Boland Grootuitdaag-kompetisie se punteleer, met Newtons voor op 73 punte, gevolg deur Roses op 66 en Hillcrest op 63.