Die welbekende kruidenierswinkel Checkers Van der Lingen in die Paarl moes Saterdag (1 Februarie) sy deure vir ’n paar uur sluit nadat rookwolke uit die kragopwekker se vertrek opgemerk is.
Daar was vrese dat ’n brand in dié kamer uitgebreek het en aanvanklike gerugte het daarop gedui dat die kragopwekker in vlamme uitgebars het.
Die Shoprite-groep, wat Checkers besit, het dit egter ontken.
“Die winkel se brandalarm is Saterdagoggend om 09:50 geaktiveer. Nadat ’n bietjie rook uit die kragopwekker-kamer waargeneem is, is die supermark as ’n veiligheidsmaatreël tydelik gesluit en die brandweer is ontbied. Ons kan bevestig dat die supermark se kragopwekker nie aan die brand was nie en in geen stadium was daar enige vlamme nie,” verduidelik die Shoprite-groep se mediaspan.
Met Paarl Post se aankoms op die perseel is klante sonder rede weggewys en is gesê dat die winkel eers later die middag weer sal heropen. Buite die winkel, op die parkeerterrein, was daar twee voertuie van elektriese kontrakteurs, asook ’n verskaffer van brandbeskermingstelsels geparkeer.
“Die kragopwekker was al etlike ure aan die gang, gekombineer met hoë temperature in die Paarl en die hitte wat deur die kragopwekker se uitlaatpyp vrygestel is, het die swart plastiek-asdromme in die omgewing laat smeul. As ’n voorsorgmaatreël is die swart dromme geskuif om ’n herhaling [van die voorval] te voorkom.”
Die winkel se deure is weer teen 13:00 vir klante oopgemaak.
“Ons wil graag ons klante bedank vir hul geduld, en ons betuig ons opregte dank aan die brandweer vir hul bystand.”
Die voorval het tydens Fase 3-beurtkrag gebeur. Beurtkrag is verlede Vrydag (31 Januarie) vir die eerste keer ná 10 maande weer ingestel.