BARRYDALE — Wat begin het as ‘n grap toe vriende die woord “Sex” tussen die woorde “Ronnie’s Shop” teen die muur van dié gewilde padstal naby Barrydale geverf het, het oor die jare ‘n baken van die Klein-Karoo geword. Vandag is die plaaseiendom waarop dié padstal geleë is in die mark vir meer as R17 miljoen en vrae heers nou onder reisigers oor die toekoms van hierdie bestemming.
Nuus oor die 230 ha plaas wat in die mark is het vandeesweek opspraak op sosiale media gemaak.
Rawson Properties adverteer die eiendom vir R17 900 000 en die advertensie sluit ook foto’s van die padstal in.
‘Dit is nie ‘n paniek-transaksie nie.’
Ronnie Price, die eienaar van die plaas wat die padstal in die vroeë 1970’s opgemaak het, het vandeesweek aan News24 gesê: “Dit is nie ‘n paniek-transaksie nie. Ek is glad nie desperaat nie.”
Volgens Price is deel van die ooreenkoms met die transaksie dat hy en sy vrou steeds op die plaas sal woon.
Hy voeg by dat hy nog nie kans sien vir aftree nie en graag eers ‘n lang vakansie wil vat.
“Ek kort vir nou bietjie meer vryheid en wanneer ek daai vryheid het sal ek besluit wat die volgende hoofstuk inhou.
“Ek gaan nie weer werk nie maar gaan ook nie by die huis sit en niks doen nie.
“Ek sal waarskynlik veilings bywoon. Daar is veilings oral in Suid-Afrika, so jy kan reis en jou land sien.
“Jy sien nuwe plekke, en dalk koop jy iets, dalk nie, maar jy het ’n doel,” het hy aan News24 gesê.
Price het bygevoeg dat hoewel hy nie sou voorskryf hoe die nuwe eienaars die eiendom bestuur nie, hy hoop hulle dit sal behou soos dit is.
“Dit het al agt-en-twintig jaar gewerk. Daar is beslis ruimte vir verbetering, maar jy moet ook versigtig wees dat jy nie die karakter bederf nie. Daardie kroeg is deur kliënte geskep, nie deur my nie.”
Dit het begin as ‘n grap
Price wou destyds ’n eenvoudige padstal begin, bloot om varsprodukte en vrugte aan reisigers langs die R62 te verkoop.
Hy het die naam “Ronnie’s Shop” op die voorkant van die wit gebou met rooi verf geskilder.
Die naam het toe op ’n dag verander toe vriende vir ’n grap die woord “Sex” tussen “Ronnie’s” en “Shop” bygevoeg het.
Die grap het onverwags vrugte afgewerp: die ongewone naam het nuuskierigheid gewek, en mense het begin stop en foto’s geneem.
Ronnie het besluit om die naam so te laat en die plaasstal geleidelik om te skakel na ‘n kroeg en restaurant.
Vandag is dit ’n bekende bestemming vir reisigers, motorfietsryers en toeriste.
Die padstal is bekend vir sy dekor soos bras en onderklere wat van deur besoekers by die kroeg agtergelaat is, asook banknote en nommerplate.





