Hierdie is ’n gereelde gesig op die voorstoep van ondernemings in Donkervlietstraat.Foto’s: Verskaf


Onwettige rommelstrooiery is nou een tameletjie wat blyk­baar bo die verantwoordelik­heid van Drakenstein-munisi­paliteit strek en, volgens amptenare, gesamentlik deur die gemeenskap en onderne­mings bekamp moet word.

Twee sake-eienaars in Donkervlietstraat in Dal Josafat, Paarl, het hul frustrasie en stryd teen onwettige rommelstrooiery by Paarl Post aangemeld.

Albei kla oor die omstandighede rakende die onderneming Paarl Scrap Metals, wat uiteraard skrootsmouse lok. Dié smouse werk glo buite dié onderneming se perseel op munisipale grond om die skroot op straat te verwerk en laat na bewering die omgewing in ’n gemors agter.

Die eienaar van Hydraquip, Le Roy le Riche, maak beswaar oor die munisipaliteit se gebrek aan patrollies, opvolgwerk rakende boetes en stadige reaksie om die rommel op te ruim. Hy sukkel met die onnet wetteloosheid op die voorstoep van sy onderneming sedert sy deure vyf jaar gelede geopen is.

Le Riche redeneer aangesien rommelstrooi ’n misdryf is, moet dit strafregtelik die hoof gebied word. Hy sê wetstoepassers “verwilder” glo slegs die skuldiges. “Dan moet ’n ander afdeling van die munisipaliteit gekontak word om die vullis te verwyder, wat eers dae later gebeur. So word die proses net van voor af herhaal,” kla hy.

“Die perseel waarop die rommel gestrooi word, is juis munisipale eiendom. Hulle is gou om private eienaars aan te sê wat mag en mag nie terwyl dit in hul agterplaas só lyk.”

Ondernemings in die omgewing sukkel voortdurend om onwettige rommel­strooiery hok te slaan.

Le Riche se buurvrou, Anke Laubscher, sê sy sit al die afgelope 10 jaar met dieselfde probleem “en die rommel­strooiery raak net erger”.

“Die klante van [die skroothandelaar] kom sit oorkant ons gebou in die pad en op munisipale grond om staal plat te slaan, maar hulle sal alles net so los en die stuk staal wat hulle wil verkoop, saamneem.

“Daar lê klippe in die straat – só groot dat jy met jou motor moet uitswaai – en stukkies staal wat telkemale slow punctures veroorsaak.”

Sy verduidelik dat sy heen en weer tussen munisipale departemente – selfs die verkeersdepartement – verwys word om die probleem in die geheel aan te meld, wat vertraagde reaksies deur betrokke departemente veroorsaak, meen sy.

Laubscher sê sy is boonop vrou-alleen op kantoor en werk elke dag in vrees vir sommige van die smouse wat uitlokkende gedrag toon.

Die eienaar van Paarl Scrap Metals, wat nie sy naam genoem wil hê nie, erken dat die smouse met wie hy handel dryf daagliks probleme veroorsaak.

“Ek het personeel aangestel om daaglikse in skofte skoon te maak en probeer werklik elke dag my bes. Ons het al op die mense geskel, geskree en geraas. Ongelukkig duur sommige probleme voort.”

Hy het PaarlPost verseker dat ’n besluit geneem is om dubbel-skof-skoonmaakdienste aan te stel om die straat skoon te hou.

DM se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, Gerald Esau, sê dit is mense wat rommel strooi en “nie die munisipaliteit nie. Dit is by mense waar die probleem lê.”

Esau pleit dat die gemeenskap van Drakenstein eienaarskap van hul omgewing neem.

“Ons het ’n verordening in die lewe geroep waarvolgens ons oortreders beboet, beslag lê op voertuie wat hiervoor gebruik word, en belonings aanbied vir inligting wat tot inhegtenis-nemings kan lei.”

Volgens Esau is verskeie boetes deurentyd uitgereik en wissel dit van R400 tot R1 000 per stortingsvoorval.

Hy sê die munisipaliteit kry gereeld klagtes oor die aktiwiteite voor die skroothan­delaar.

“Die DM het reeds verskeie inspeksies ter plaatse gehou. Ons wetstoepassingsafdeling doen daagliks patrollies in die gebied om onwettige storting die hoof te bied. Die skrootwerwe word ook op ’n gereelde grondslag besoek en die bestuur aangespreek.”

Dit sluit in maandelikse geïntegreerde optredes wat deur wetstoepassers, die polisie en ander veiligheidsvennote in die gebied uitgevoer word, sê Esau.

“Verskeie boetes is al in hierdie omgewing weens onwettige storting uitgereik. Die oop ruimte oorkant Le Riche se perseel word kwartaalliks netjies gemaak. ’n Struktuur waar haweloses hulle tydelik gevestig het, is ook afgebreek.”

Esau voer aan dat die DM die diensleweringsooreenkoms met inwoners nakom en binne die toegelate tydsraamwerk reageer.

“Wanneer die munisipale hof sy deure open, sal oortreders in die Drakenstein strenger boetes, asook die moontlikheid van beslaglegging op bates, in die gesig staar.”

Wanneer sal die afwagting vir die hof se opening verby wees?

DM se uitvoerende direkteur van korporatiewe dienste, Seraj Johaar, sê net: “Die munisipale-hof sal eersdaags sy deure open.”

  • Scrap dealers at Paarl Scrap Metals in Dal Josaphat have been causing illegal waste in the aftermath of their dealings in the area for the past 10 years. Neighbouring businesses complain that the dumping is only getting worse.

You need to be Logged In to leave a comment.