Die onlangse brande in die berge rondom Wellington het inwoners opnuut bewus gemaak van die vragte rommel wat veral langs die historiese bergpas deur Bainskloof gestrooi lê.
Die nuwe burgerlike organisasie van Wellington, WAG (Wellington Aksiegroep)/Stop Misdaad, het die afgelope naweek ’n groepie vrywilligers byeengebring wat die rommel en stukkende bottels langs die Bainskloofpas begin optel en verwyder het.
Terwyl hulle daarmee besig was, het die burgemeester van Drakenstein, Conrad Poole, spesiaal uitgery na Bainskloof om die span skoonmakers moreel te gaan ondersteun.
Volgens die burgemeester is die werk wat die groepie vrywilligers verlede Saterdag in Bainskloof verrig het, die beste voorbeeld van hoe ’n gemeenskap kan saamstaan om die omstandighede rondom hulle daadwerklik te verander en te verbeter. Hy het die hoop uitgespreek dat die mense van Drakenstein toenemend die voorbeeld sal navolg wat deur hierdie groepie vrywilligers gestel is. Hy glo dat nie alleen Bainskloof hierdeur van rommel bevry sal word nie maar dat hul goeie werk oral rondom ons sal begin sigbaar raak.
Die helpers wat by die skoonmaakaksie betrokke was, sê benewens die vragte rommel en stukkende bottels wat hulle verwyder het, het hulle ook op ’n plek tussen die bosse langs die pad afgekom waar kabeldiewe gereeld die telefoonkabels wat hulle steel rustig sit en skoonmaak.
Vragte van die plastiekomhulsels wat van die kabels afgetrek is, het die berg daar ontsier.
Francois Theron, ’n bestuurslid van WAG/Stop Misdaad, het gesê die organisasie gaan in die toekoms alles in sy vermoë doen om hierdie skoonmaakaksie deur vrywilligers op ’n gereelde grondslag voort te sit.
* Concerned residents of Wellington and volunteers, together with the Drakenstein Municipality, have been making a concerted effort to clean up Bains Kloof Pass.