Cecil Fielies Foto: Verskaf
Cecil Fielies Foto: Verskaf

Cecil Fielies, ‘n boorling van Robertson, is verlede naweek op ‘n jaarvergadering in die Paarl as Boland-krieket se nuwe president verkies.

Altesaam vyf name is in die hoed gegooi, waaronder Terrence Adonis, skoolhoof van die Paulus Joubert Sekondêre Skool.

Adonis se termyn as direkteur op die raad het ook op die afgelope Saterdag (6 September) se vergadering verstryk, luidens ‘n berig deur Die Son.

Die drie ander kandidate was Louis Hartzenberg, John Clark en Justin Wats.

Fielies was die enigste kandidaat wat geen amptelike posisie in die federasie beklee het nie.

Hy het vandeesweek gesê hy het sy presidentskap met ‘n nugtere, maar doelgerigte benadering begin.

Hy maak dit duidelik dat hy nie groot beloftes of dramatiese veranderinge aan die orde gaan stel nie.

Sy prioriteit is eenvoudig die versterking van die ontwikkelings-pyplyn vir jong talent.

“Vir my is dit die fondasie waarop Boland op die veld nie net mededingend kan bly nie, maar ook sy status as ‘n presterende unie kan uitbou.”

Fielies bring sy lewensfilosofie van harde werk en gemeenskapsbetrokkenheid na die krieketwêreld.

As beampte by die Kaapse Wynland- distriksmunisipaliteit is praktiese leierskap en verantwoordelikheid deel van sy daaglikse werklikheid – vaardighede wat hy nou verder in diens van die sport stel.

“My verhouding met plaaslike krieket strek oor baie jare. Ek dien nie net as voorsitter van die Langeberg Sportraad nie, maar ook as leier by die Robertson- krieketklub, waar ek hand-aan-hand saam met spelers en ondersteuners gewerk het.

“Onder my leiding, wat oor ‘n tydperk van 10 jaar plus getrek het, het Robertson as een van die streek se gerespekteerde klubs ontwikkel,” het hy gesê.

Met sy verkiesing as president word Fielies outomaties ‘n lid van die Presidentsraad van Krieket Suid-Afrika – ‘n posisie wat hom die platform bied om die Boland se belange op ‘n nasionale vlak te verdedig en terselfdertyd die profiel van die streek te verhoog.

“Ek beskou dit as ‘n gulde geleentheid om die erkenning te verseker wat ek glo die Boland lankal verdien.”

Maar saam met dié eer kom groter uitdagings omdat sy mandaat oor die hele Boland-provinsie strek.

Dit beteken hy moet toesien dat plaaslike strukture nie net floreer nie, maar ook sinvol tot die groter Suid-Afrikaanse krieketprojek bydra.

”My visie is helder en ek wil ‘n robuuste stelsel skep waar jong spelers die kans kry om deur die ontwikkelings-

kanale te beweeg en uiteindelik vir die Boland Rocks en selfs die Proteas te speel.

“Hoe ongelooflik sal dit nie wees as 80 persent van die Boland-span binne die nabye toekoms uit ons eie geledere kom nie. Dit is nie net ‘n droom nie; dit moet ‘n werklikheid word,” sê Fielies met passie.

Hy benadruk dat sy reis na die presidentskap nie sonder die ondersteuning van ander moontlik sou gewees het nie.

Hy verwys na die konsep van ubuntu en hoe mense hom deurentyd op sy reis bygestaan het.

Tog waarsku hy teen onrealistiese verwagtinge.

Sy titel verander nie wie hy is nie.

“Ek bly steeds Cecil – die plattelandse seun met my voete stewig op die grond. ‘n Presidentskapstitel maak my nie ontoeganklik nie.

“Ek kan nie elke klub se wenslys oornag vervul nie. Wat ons wél kan doen, is om saam te werk. Dít is die beginpunt vir die kultuur van samewerking, eenheid en groei wat ons nodig het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article