Oryan Jack van Worcester Villagers in aksie teen Robertson.Foto: Ernest Kilowan


In ’n rillerstryd tussen twee van die oudste rugbyklubs, Worcester Villagers RVK en Robertson RVK in Boland Rugby, het die eerste skote van vanjaar se Sanlam Boland Top-12-eindstryd op Saterdag 23 November in die Boland-rugbystadion in Wellington geklap.

Robertson, wat die wedstryd in die eerste 10 minute met sy voorspelers oorheers het, het die voortou geneem toe Collin Willemse met ’n skitterende korrelskoot geslaag het om sy span te laat voorloop met 3-0.

’n Titaniese stryd tussen die twee pakke voorspelers het geheers wat geen ruimte vir mekaar gegun het nie. Villagers het sy kans gekry toe Robertson vir ’n oortreding gestraf is, maar Villa het verkies om kantlyn toe te skop.

’n Skitterende aanval deur Curswin Fortuin van agter die lynstaan het Robertson laat bontstaan toe die glibberige buksie van Villa 30 m ver deur die verdediging gevleg het en Mario Marinus ’n goed geplaasde grondskop teen die kantlyn gevind het om in die linkerhoek af te rond.

Die doelskop was egter mis en Villa het die voortou met 5-3 geneem.

Kragspel deur Robertson se vaste vyf het gelei tot Robertson se eerste drie in die 31ste minuut deur Jasherrie Karriem.

Willemse het die doelskop oorgeklits om Robertson met 10-5 te laat voorloop. Albei spanne het in die laaste vyf minute hard probeer om mekaar se doellyne oor te steek, maar met goeie verdediging was dit nie moontlik nie. Toe die skeidsregter sy rustydfluitjie blaas, was Robertson met 10-5 voor.

Villagers het die tweede helfte afgeskop met uitstekende spel deur sy agterlyn en Jarian de Klerk oorgestuur vir hul tweede drie. Hy het weer eens misluk met die doelskop en die telling was gelykop 10-10. Willemse het twee strafskoppe in Villa se 22-meter-gebied oorgeklits en die spanning het gelaai met die telling 16-10 in Robertson se guns.

In die 57ste minuut het Robertson met uitstekende spel ondersteuners op hul voete gehad toe hulle ’n drie druk en met 21-10 voorloop.

Villa het egter koelkop gebly en sy kanse afgewag. Soos blits het die agterlyn geslaan en afgerond met ’n derde drie en die telling tot 17-21 vernou.

Twee vinnige drieë deur Villa het die wedstryd se gang verander, en skielik was Robertson in die moeilikheid met die telling op 29-21. Robertson het egter koelkop gebly en die agterstand in die 72ste minuut met ’n verdoelde drie veminder tot 28-29.

Villa se dissipline het hulle egter in die steek gelaat toe hulle met twee minute vir onkantspel gestraf is. Willemse se skoot was hoog en suiwer deur die pale en die applous kon tot in Robertson gehoor word.

Hoewel Villa verwoed aangeval het, kon hulle net nie Robertson se verdediging breek nie en moes tevrede wees as naaswenners.

Ná drie probeer- slae in 107 jaar het Robertson uiteindelik sy hande op die Sanlam Boland Top-12-trofee gesit toe hy Villa met 31-29 verslaan het.

You need to be Logged In to leave a comment.