Die Laerskool Paulus Joubert het by sy jaarlikse diplomaplegtigheid en prysuitdeling verskeie leerders vir hul akademiese prestasies vereer. Riley Hendrick, onderhoofmeisie, is bekroon met die gesogte titel van dux-leerder vir haar uitmuntende akademiese prestasies. Sy is aangewys vir die beste leerder in natuurwetenskappe, kuns, aardrykskunde, Afrikaans en het boonop ’n eerste plek in haar klas, gr. 7A, vir akademiese prestasie ontvang. Riley het ook ’n sertifikaat vir haar leierskap gekry. Links pronk sy met al haar medaljes, sertifikate en trofeë wat sy vir haar harde werk ontvang het.