Rieldansers in aksie by Nederburg Primêr se rieldansfees voorverlede jaar.Foto: Chantelle Hartebeest


Nederburg Primêre Skool sal sy jaarlikse rieldanskompetisie Saterdag 26 Oktober op die skoolterrein in Bo-Solomonstraat, Paarl-Oos, aanbied. Hierdie unieke kulturele viering vind vanjaar die derde keer plaas en dit is tans die enigste kompetisie in sy soort in die Drakenstein-vallei.

Sedert die laaste rieldanskompetisie, wat in 2019 deur die ATKV by die Amfiteater op Paarlberg gehou is, het Nederburg Primêr hierdie tradisie op sy eie met trots voortgesit – sonder finansiering deur plaaslike owerhede.

Die skool werk onvermoeid om vanjaar se geleentheid te organiseer, wat nie net mense se ryk erfenis as afstammelinge van die Khoi en die San vier nie, maar ook ’n bron van addisionele inkomste vir die skool is en ’n bydrae lewer tot die plaaslike ekonomie van die Drakenstein-munisipaliteit.

Hierdie gebeurtenis is meer as net ’n kompetisie. Dit bied ’n betekenisvolle platform vir die kinders van Nederburg Primêr om hul kultuur uit te druk en betrokke te bly by positiewe aktiwiteite wat hulle uit die strate hou. Die kinders se entoesiasme om hierdie ou, inheemse dans te beoefen, is werklik inspirerend en gee hulle ’n gevoel van trots in hul erfenis.

Sonder formele borge is die skool egter genoodsaak om op sy eie beperkte hulpbronne staat te maak om hierdie gebeurtenis suksesvol aan te bied.

Daar is tans ’n groot behoefte vir blyplek vir Vrydag 25 Oktober, asook ontbyt op Saterdag 26 Oktober, met 181 deelnemers en afrigters wat van so ver as Namibië reis om aan die kompetisie deel te neem.

’n Beroep word dus gedoen op enige organisasie of individu om ’n bydrae te gee om te help om hierdie belangrike kulturele gebeurtenis vir die gemeenskap voort te sit.

. Gee ’n broodnodige skenking deur van die volgende rekening gebruik te maak:

Rekeningnaam: Nederburg Primary

Bank: FNB

Rekeningnommer: 62069261453

Verwysing: Rieldans 2024

Bewyse van betaling kan gestuur word na hybresearch@gmail.com.

. Stuur e-pos na die skoolhoof by nederburg.prim@wcgschools.gov.za met navrae en vir enige ander vorm van ondersteuning.

Alhoewel akkommodasie en etes tans die grootste prioriteit is, word enige vorm van ondersteuning wat hierdie gekoesterde gemeenskapsgeleentheid ’n sukses kan maak, verwelkom.

You need to be Logged In to leave a comment.